ANC-jeugliga optog beweeg Vrydag na Uniegebou

ANc-jeugligaleier, Julius Malema, tydens die nagwaak in Arcadia in Pretoria. Die gebruiker @ewnreporter het die foto op Twitter geplaas.

Duisende ondersteuners van die ANC-jeugliga het Vrydagoggend by die Caledonian-stadion in Arcadia in Pretoria bymekaargekom vir ʼn optog na die Uniegebou.

Die jeugliga sal na verwagting omstreeks 10:00 ʼn memorandum aan die presidensie oorhandig. Die nagenoeg 3 000 ondersteuners het vroeg Vrydagoggend in Pretoria aangekom vir ʼn nagwaak nadat hulle Donderdag in Johannesburg ʼn optog gehou het. Die leier van die jeugliga, Julius Malema, het die optog gelei. Hy het self die grootste gedeelte van die nagenoeg 50km reis. Malema het Donderdag ʼn memorandum aan die uitvoerende hoof van die Kamer van Mynwese oorhandig van waar die optog na die Johannesburgse aandelebeurs in Sandton beweeg het. Die reis van Sandton na Pretoria, op die R101 Ou Pretoria weg, het nagenoeg agt ure geneem. Talle van die optoggangers kon Vrydagoggend gesien word waar hulle in motors, op grasperke, sypaadjies en stoele in die stadion aan die slaap geraak het. Malema het die optoggangers Vrydagoggend bedank vir hulle ‘goeie gedrag’. Die polisie handhaaf steeds ʼn streng teenwoordigheid in die gebied.

Pretorius straat, tussen Beatrix straat en Nelson Mandela rylaan, is reeds vanaf Donderdag 18:00 vir verkeer gesluit. Dié straat sal Vrydagoggend omstreeks 11:00 heropen word. In Schoeman straat, tussen Beatrix straat en Nelson Mandela weg, is een baan sedert Donderdag om 18:00 gesluit. Dit sal Vrydagoggend om 10:00 heropen word. Pretorius straat, tussen Hamilton straat en Nelson Mandela weg, is sedert Vrydagoggend 5:00 gesluit en sal 10:00 weer heropen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.