Video: ANC-jeugliga optog oppad na Sandton, nog strate in Pta gesluit

ANC-jeugligaleier, Julius Malema, kom Donderdagoggend by Beyers Naude-plein in Johannesburg aan vir die jeugliga se optog vir 'ekonomiese vryheid'. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC-jeugliga se optog vir ‘ekonomiese vryheid’ het Donderdagmiddag na Sandton beweeg waar die groep by die Johannesburgse aandelebeurs bymekaar sal kom.

Die Johannesburgse aandelebeurs in Gwen laan het intussen voorbereidings getref vir die optog deur sy ondergrond parkering met traliehekke te blokkeer. Daar heers ook ʼn streng polisie teenwoordigheid by die aandelebeurs. Die optog het in Killarney gestop terwyl daar op ʼn watertenk gewag is nadat talle optoggangers gedehidreer het sommige flou geraak het. Duisende jeugliga-ondersteuners het Donderdagoggend by Beyers Naude-plein bymekaargekom. Die optog het egter later as verwag begin terwyl daar gewag is op nog ondersteuners en die jeugliga se president, Julius Malema. Malema het met sy aankoms ʼn beroep gedoen op sy ondersteuners om ‘maksimum dissipline’ te vertoon tydens hulle ‘lang pad na vryheid’. Die groep het van hier na die Kamer van Mynwese se kantore beweeg waar die uitvoerende hoof, Bheki Sibiya, die jeugliga se memorandum van griewe in ontvangs geneem het. Sibiya het aan die duisende ondersteuners gesê dat die Kamer van Mynwese binne vyf dae op hulle griewe sal reageer.

Die groep word gelei deur Malema wat eers saam geloop het maar later in ʼn minibus gery het. Die DA het intussen sy kommer uitgespreek rakende berigte dat die studente-organisasie Cosas leerlinge van skole in Alexandra en Soweto gedwing het om aan die optog deel te neem. Die DA sê dit is uiters belangrik dat die leerlinge by die skool aangesien hulle besig is met eindeksamen. Die Vryheidsfront Plus se jeugorganisasie sê intussen die jeugliga se optog is nie antwoord vir Suid-Afrika se probleme nie.

Die Tshwane-metropolisie het intussen aangekondig dat meer paaie gesluit sal word vir die jeugliga se nagwaak, wat in Arcadia plaasvind, as wat daar aanvanklik beplan is. ʼn Woordvoerder, Console Tleane, sê Pretorius straat, tussen Beatrix straat en Nelson Mandela rylaan, sal vanaf Donderdag 18:00 vir verkeer gesluit wees. Hy sê Pretorius straat sal Vrydagoggend omstreeks 11:00 heropen word. In Schoeman straat, tussen Beatrix straat en Nelson Mandela weg, sal een baan gesluit wees vanaf Donderdag om 18:00 tot Vrydagoggend 10:00. Pretorius straat, tussen Hamilton straat en Nelson Mandela weg, sal Vrydag tussen 5:00 en 10:00 gesluit wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.