ANC-jeugliga se bates na die balju

Helen Zille

Die Kaapstadse hooggeregshof het die balju vandeesweek opdrag gegee om beslag te lê op eiendom wat aan die ANC-jeugliga en sy voormalige president, Julius Malema, behoort, om sodoende onbetaalde regskoste te dek.

Meer as R100 000 se regskoste is glo uitstaande weens die hofsaak met Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, berig Sunday Times. Malema en die voormalige lede van die ANC-jeugliga het Zille se uitvoerende komitee, wat net uit mans bestaan, as ‘n groep “rassistiese tuinjongens” beskryf wat haar “kêrels en byvroue” is.

Zille wou hê die hof moet Malema, voormalige woordvoerder van die jeugliga Floyd Shivambu, en uitvoerende komiteelid Andile Lili verplig om hul uitlatings terug te trek.

Sy het die hofsaak van R1.2 miljoen teen hulle en die jeugliga verlede jaar teruggetrek nadat ‘n ooreenkoms bereik is dat almal, buiten Lili, ingestem het om om verskoning te vra en Zille se regskoste te betaal. Die koerant berig dié skuld is nooit betaal nie.

Die balju moet glo beslag lê op jeugliga-eiendom in ‘n poging om die R93 218 te vereffen en R18 223 van Malema.

Magasela Mzobe, woordvoerder van die ANC-jeugliga, het gesê hy is bewus van die lasbrief om beslag te lê op die bates. “Ons herstruktureer en kwessies oor skuld en enige hangende hofsake sal in daardie vergadering bespreek word,” het Mzobe gesê.

Malema se gedeeltelik voltooide huis in Sandown is verlede week vir R5.9 miljoen op ‘n veiling verkoop in ‘n poging om R16 miljoen, wat Malema aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) skuld, te vereffen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.