ANC-jeugliga versoek dat matriekuitslae vroeër bekend gemaak moet word

Die ANC-jeugliga in Gauteng het Maandag gesê dat dit oorweeg moet word om die matriekuitslae vroeër in Desember bekend te maak om sodoende opeenhoping by universiteite te verhoed.

“Deur die uitslae ʼn dag voor die tersiêre instellings oopmaak, bekend te maak, dra by tot die chaos wat kenmerkend is aan die toelatings, soos by die Universiteit van Johannesburg (UJ) dié jaar,” het Ayanda Kasa-Ntsobi, provinsiale sektretaris van die ANC-jeugliga in ʼn verklaring gesê. Gloria Sekwena, 47, is in ʼn stormloop by die universiteit dood toe sy haar seun by die universiteit wou inskryf. Meer as 20 mense is beseer.

“Hierdie [toelatingsproses] is ʼn basiese reg tot opvoeding wat ongelukkig tragies geëindig het,” het Kasa-Ntsobi gesê. “Die voorval het egter baie lesse aan ons geleer oor die uitdagings wat ons in die gesig staar en eis daadwerklike optrede van die regering om die langtermynprobleme wat ons opleidingstelsel bedreig, hok te slaan.” Sy sê die voorval het die behoefte uitgelig dat die regering ʼn nuwe plan moet beding om vir tersiêre studente landwyd plek te maak. “ʼn Deel van die werklikheid is dat ons steeds provinsies soos Mpumalanga en die Noord-Kaap het wat nog nie tersêre instellings het nie,” het sy gesê.

Floyd Shivambu, woordvoerder vir die ANC-jeugliga het Donderdag gesê die departement van hoër onderwys moet erken dat daar ʼn ernstige tekort aan spasie in tersiêre instellings is. Hy het gesê dat die ANC-jeugliga met Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, sal vergader om die behoefte aan nuwe universiteite te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.