ANC-jeugliga wil Potch-raadslede herroep

Annette Combrinck, burgemeester van Potchefstroom

Die ANC-jeugliga het Donderdag gesê die ANC moet sy raadslede in Potchefstroom herroep nadat dié party se burgemeester deur ʼn DA-raadslid vervang is.

“Die ANC-jeugliga spreek sy misnoeë uit oor die gedrag van ANC-raadslede in Tlokwe-munisipaliteit,” het die jeugliga in ʼn verklaring gesê. “Na verwagting moet die nasionale leierskap van die ANC ʼn besluit neem en alle ANC-raadslede wat dié mosie ingestem het, herroep.”

Willie Maphosa, woordvoerder vir Tlokwe-munisipaliteit, het Donderdag gesê die burgemeester is Woensdagaand uitgestem en die nuwe burgemeester is dadelik ingestem. “Die oorgang tussen die twee burgemeesters verloop glad. Die nuwe burgemeester sal die personeel Vrydag toespreek,” het Maphosa gesê.

Prof. Annette Combrinck, raadslid van die Demokratiese Alliansie (DA), het die eerste DA-burgemeester in die provinsie geword nadat sy die ANC-kandidaat, Lucky Tsagae, met 20 stemme teenoor 19 geklop het.

“Terwyl die land ʼn mosie van wantroue teen die president van die land gebring het, het hierdie raadslede ʼn mosie van wantroue teen die burgemeester ingebring, met tragiese gevolge,” het die ANC-jeugliga gesê.

Die DA sê die stem dui op die onstabiliteit en onderlangse gevegte in die Noordwes-provinsie. Chris Landsberg, die koukusleier van die party, het gesê nie alle raadslede het aan die stemproses deelgeneem nie. “ʼn Faksie van die ANC het die vertrek verlaat nadat die mosie van wantroue goedgekeur is,” het Landsberg gesê.

Volgens die DA het verskeie ANC-lede ʼn kennisgewing van ʼn mosie van wantrou in Combrinck, kort nadat sy verkies is, ingebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.