ANC-jeugligaleier pleit skuldig aan moord

‘n Leier van die ANC-jeugliga het Maandag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg skuldig gepleit aan die moord van twee ANC-takleiers.

Natasha Ramkisson, woordvoerder van die Openbare Vervolgingsgesag, het gesê Sifiso Khumalo het op een aanklag van moord skuldig gepleit. Sy sê die 31-jarige Oshabeni ANC-jeugligaleier het skuldig gepleit aan die moord van Dumisani Malunga. Luidens ‘n verklaring wat Khumalo afgelê het, het hy en sy medebeskuldigde, Samuel Cele, ‘n sluipmoordenaar gehuur om Malunga te vermoor.

Sonder hulle medewete, het die sluipmoordenaar toe egter op Malunga en Bheki Chiliza afgekom, en besluit om beide te vermoor.

Khumalo en Cele is verlede week Maandag in hegtenis geneem, skaars ‘n dag ná die moord. Volgens Ramkisson sal Khumalo Dinsdag in die hooggeregshof gevonnis word.

Cele sal Woensdag sy borgaansoek in die landdroshof in Port Shepstone indien.

Chiliza was die Oshabeni-taksekretaris en Malunga was die takvoorsitter. Malunga (42) en Chiliza (39) is doodgeskiet toe hulle van ‘n ANC-vergadering huis toe gery het.

Volgens Ramkisson het Khumalo nie gesê hoeveel die sluipmoordenaar, wat glo steeds op vrye voet is, betaal is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.