ANC kap “Swart Dinsdag”

'n Man betoog teen die voorgestelde Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Die ANC sê die Nasionale Persklub se beplande proteskasie “Swart Dinsdag”, is niks meer as ‘n verdraaiing van die feite nie.

Die Nasionale Persklub het aanvanklik besluit op “Swart Woensdag” maar dit na “Swart Dinsdag” verander nadat dit aan die lig gekom het dat die Nasionale Vergadering (NV) Dinsdag oor die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting sal stem. Die ANC se hoofsweep, Mathole Motshekga, sê die enigste gevolg van die beplande veldtog, waar mense aangemoedig word om swart aan te trek, is om die ware geskiedenis van “Swart Woensdag” te verdun en “die slagoffers van apartheid se barbaarse wette te beledig.” Die Nasionale Persklub het mense aangemoedig om Dinsdag swart klere of ʼn swart armbandjie te dra om hul teenstand te wys vir die omstrede wetsontwerp. Die ANC sal na verwagting Dinsdag sy meerderheid stem gebruik om die wetgewing deur die NV te voer. Dit sal hierna na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word. Daar is kommer dat die wetgewing die media sal muilband. Daar is ook veral kommer oor die uitsluiting van ʼn openbare belange-verweer. Op 19 Oktober 1977, die sogenaamde “Swart Woensdag”, het die destydse apartheidsregering koerante soos The World, Weekend World en die Christelike publikasie Pro Veritas verbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.