ANC-kongres: Dag 4

Klik hier om die opsomming van Dag 1 te lees
Klik hier om die opsomming van Dag 2 te lees
Klik hier om die opsomming van Dag 3 te lees

President Jacob Zuma

Al het die ANC se beleidskonfrensie Vrydag te einde geloop, sal die werklike beleidsimpak eers met die ANC se leierskapskonferensie die einde van die jaar heeltemal duidelik wees. Die ANC gaan nou die verslae van die kongres saam bestudeer en die finale produk sal dan eers goedgekeur word.

Steeds meer berigte sien die lig oor onderonsies tussen ondersteuners en teenstanders van pres. Jacob Zuma. Zuma se ondersteuners het skynbaar die gedagte aan ‘n tweede oorgang as sinoniem met ‘n tweede termyn vir Zuma probeer vestig, met ‘n dubbel-vingersaluut wat die twee termyne uitbeeld. Die besluit van die kongres om die beleidsdokument te wysig, en die benaming daarvan te skrap, word as ‘n terugslag ervaar.

Die nuus oor ‘n nuwe luukse straler wat vir Zuma aangekoop word het ook skerp reaksie van hoofsaaklik buite die kongres ontlok.

Sakelui wat duur betaal het om saam met die president te eet, en uitstallers wat ook opgedok het om tydens die kongres uit te stal, het ook onder skoot gekom as sou dit die koop van politieke invloed behels. Matthews Phosa, tesourier-generaal van die ANC, het dit ontken.

In ‘n tikkie ironie het die enigste uitstaller wat deur sy hoof self verteenwoordig is, ABSA deur Maria Ramos, slegte publisiteit gekry met aandele wat onder druk gekom het, en die skandaal wat die houermaatskappy, Barclays, getref het.

Wat buitelandse beleid betref, het die ANC hom  sterk vir die demokratisering van Swaziland uitgespreek, maar ‘n meer neutrale houding teenoor Zimbabwe ingeneem. Die ANC het sy noue bande met Zanu-PF herbevestig, maar ook aangedui dat dit in verkiesingsake neutraal sal bly. Die ANC neem ‘n duidelike pro-Palestynse houding ten koste van Israel in, en die ANC voel die internasionale strafhof pik op Afrika.

‘n Beleidsaspek waaroor nie konsensus oor bereik kon word nie, is of onderwys as ‘n noodsaaklike diens beskou moet word, of nie. Die vakbonde staan dit teen. Die saak tel onder die sake wat verder bespreek sal word. Ook gratis onderwys sal nog besinning verg omdat die koste-aspek nog nie bereken is nie.

Vroeër het RSG berig dat voorgestel is dat vroue die hoofbegunstigdes van grondhervorming moet wees. Volgens ‘n vroeëre verslag is minstens 6,8 miljoen hektaar tussen 1994 en 2011 aan begunstigdes oorgedra. Dit verteenwoordig sowat 27 persent van die doelwit om 24,5 miljoen hektaar teen 2014 oor te dra. ‘n Lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, Hlengiwe Mkhize sê die eienaarskap van grond, veral in landelike gebiede is ‘n groot bekommernis. In nog ‘n aankondiging by die beleidskonferensie het die ANC besluit dat vroue ‘n 50-50-verteenwoordiging moet hê in alle sfere van die gemeenskap, veral in leierskapsposisies in die regering en die ekonomie. Die Kommissie oor Geslagskwessies sê hoewel die party probeer om dit in die praktyk te laat werk, is dit nie altyd sigbaar nie.

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC en sterk Zuma-ondersteuner, het in ‘n radio-onderhoud beklemtoon dat die ANC steeds in sy ekonomiese beleid dapper stappe sal neem. Hy het verwytend geklink oor die dokument oor die tweede oorgang gewysig is. Sy het duidelik ten gunste van groter staatsinmenging in die ekonomie gepraat.

Die Mail & Guardian het skerp op van die besluite gereageer, en sommiges as doodgewoon onimplementeerbaar beskryf. Die koerant wys ook daarop dat die ANC besluit het sy beleid van kaderontplooiing moet bly maar dat die kwaliteit van die kaders wat ontplooi word, moet verbeter. Sportkwotas moet ook behou word.

Die ANC se voorgestelde mynbeleid het ook skerp reaksie van Solidariteit ontlok: “Alhoewel die ANC se besprekingsdokument oor mynbou afsien van volskaalse nasionalisering en daar sprake is dat hierdie posisie tans by die ANC se beleidskonferensie bevestig word, is daar geen gronde vir gerustheid nie. Daar is steeds die bedreiging van ander maniere waarop die regering sy mag oor mynbou wil laat geld, soos die voorgestelde superbelasting, het die vakbond Solidariteit vandag gewaarsku. Die vakbond is bekommerd dat dit tot werksverliese in plaas van werkskepping in dié sektor aanleiding sal gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.