ANC-kongres – Dag twee

Die afgevaardigdes het vandag in kommissies verdeel en bespreek verskeie beleidsapekte, waaronder grondhervorming.

Die eerste belangrike inligting uit die kongres was toe die party se tesourier-generaal, Matthews Phosa, op die “kantlyn” gesê het solank as wat die ANC nie daarin slaag om korrupsie uit die stelsel te haal nie, sal die mense oor swak dienslewering kla. Phosa het gesê die munisipale vlak is die grootste kopsorg, en faal dienslewering erg, maar hy het ook uitgewys dat die ANC in die algemeen ‘n gebrekkige vermoë tot regeerkunde het. Hy het gesê dit is nodig dat die party sy styl van ontkenning laat vaar, en wanneer dit gedoen is, die vraag te vra oor wat gedoen kan word om sake reg te stel.

Phosa het ook vraagtekens oor nasionalisering gehad, wat op die kongres bespreek word.

Oorywerige polisielede het joernaliste se akkreditasiekaarte afgeneem toe hulle, soos met die ANC gereël is, oor etenstyd met afgevaardigdes wou praat en foto’s neem.

Intussen het ‘n groep ontevrede ANC-lede in die Vrystaat die Hooggeregshof genader om die onlangse provinsiale kongres ongeldig te verklaar. Die saak sal na verwagting môre aangehoor word. Indien die hof wel sou beslis die kongres was ongeldig, meen die ontevredenes dat die Vrystaatse afgevaardigdes by die beleidskongres in Midrand onreëlmatig deelneem. Die Vrystaatse afgevaardigdes, soos dié van KwaZulu-Natal het hul steun vir pres. Jacob Zuma baie duidelik gemaak.

AfriForum se kritiek op pres. Jacob Zuma oor sy opmerkings oor die wegdoen met gewillige koper, gewillige verkoper, het besonder wyd nuusdekking geniet.

Intussen geniet die kongres, en selfs die feit dat dit gehou word, min aandag in die buitelandse pers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.