ANC-kongres: Slot

Klik hier om die opsomming van Dag 1 te lees
Klik hier om die opsomming van Dag 2 te lees
Klik hier om die opsomming van Dag 3 te lees
Klik hier om die opsomming van Dag 4 te lees

President Jacob Zuma

Dalk moeilikheid oor afneem van grond

Die ANC en die SAUK het gisteraand bitter min vriende gemaak toe die verrigtinge in Midrand laat afgesluit het, en die regstreekse uitsending op SABC 2 die gewilde sepie, 7de Laan, en die ewe gewilde Voetspore “ingesluk” het. Die rede vir die vertraging was na bewering dat opponerende groepe appels begin swaai het. Dat juis SABC 2 gereeld vir ANC-verrigtinge uitgesoek word, moet tog eendag aan die kykers verduidelik word.

Die belangstelling in die kongres het erg getaan na dit geblyk het dat heelwat van die besluite wat geneem is, aan die einde van die jaar tydens die Mangaung-kongres omgekeer kan word.

Wat die buitelandse media betref, is die kongres deur Trouw geïgnoreer, en die jongste artikel oor Suid-Afrika handel oor ‘n boek van Deon Meyer wat na die land se misdaadsituaie verwys. Die Christian Science Monitor fokus op vroueregte in Suid-Afrika sonder verwysing na die kongres, en De Standaard verwys bloot na Suid-Afrika in die groter Afrikakonteks, ook sonder enige vermelding van die kongres. Die Berliner Umschau se grootste Afrika-belangstelling is die verkiesing van Mohamed Morsi as Egiptiese president.

Die laat afsluiting is ‘n gepaste slot vir die verrigtinge wat met die aanvang van die kongres twee ure laat begin het, en wat deur verskeie organisatoriese blapse gekenmerk is, waaronder die wegneem van ‘n groep joernaliste se akkreditasie wat volgens die ANC se instruksies gehandel het.

Beeld berig vanoggend dat die kommissie wat oor grondhervorming moes besin, se voorstel dat grond nie sonder vergoeding geneem kan word nie, byna-byna in die volle vergadering in die slag gebly het. Die ANC-jeugliga en ander radikales het byna daarin geslaag om ‘n besluit deurgevoer te kry dat grond sonder vergoeding afgeneem kan word. Daar is wel besluit dat grond wat onwettig bekom is, sonder kompensasie afgeneem kan word, en hiermee het die Jeugliga tot die gevolgtrekking gekom dat hulle “gewen” het. Die implikasie sal later duidelik word, omdat peilings toon dat tot 80 % van die swart mense meen blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel.

Die gewillige koper, gewillige verkoper-beginsel sal egter volgens die besluit in die slag bly.

Beeld berig die minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson het gisteraand gesê daar word wel gekyk na die moontlikheid om die 1913-afsnydatum vir grondeise terug te skuif, maar slegs vir sekere gemeenskappe, soos die Khoi-San, en sekere dele van die land. Grondeise vir gebeure ná 1913 sal nie heropen word nie.

Onsekerheid hieroor, en verskeie ander aspekte, sal egter tot Desember voortduur wanneer die Mangaung-kongres in Bloemfontein finaal besluite kondoneer of afkeur.

Beeld berig ook dat, wat minerale betref, Zuma ’n groter rol aangekondig het vir ’n te stigte enkele staatsmynmaatskappy, wat aanvanklik uit ’n samevoeging van bestaande staatsmynboubelange sal bestaan.

Die staat se rol sal mettertyd uitgebrei word, maar Zuma het die woord “nasionalisering” nooit gebruik nie.

Die ANC het ook besluit om ondersoek in te stel na die vermindering van die provinsies, met die doel om provinsiale regering te versterk. ‘n Kommissie wat die saak wetenskaplik moet ondersoek sal aangewys moet word. Die teikendatum vir afhandeling is 2015 of 2016. Dié stap sal waarskynlik kwaai deur opposisiepartye teengestaan word, enersyds omdat dit die nasionale Vredesakkoord raak, maar ook omdat die ANC daarvan verdink word dat dit so provinsies soos die Wes-Kaap wat aan die opposisie afgestaan word, weer, soos die ANC dit stel, wil “bevry.”

Die kongres het ook op ‘n enkele polisiemag besluit wat die munisipale polisie sal integreer.

Die Jeugsubsidie is verwerp. Dit sal vervang word deur belatinginsentiewe en subsidies vir opleiding.

Faksievorming en verdeeldheid sal nie geduld word nie, en dissipline sal verskerp word.  Vroeër is ook berig dat die ANC besluit het dat lede wat die party hof toe sleep, summier geskors sal word. Dit het blykbaar verwys na ‘n dringende aansoek in die Vrystaatse Hooggeregshof teen die Vrystaatse streek- en provinsiale kongresse, na Zuma self die proses wat deur Zuma se teenstanders geboikot is, gekondoneer het.

Zuma het in sy afluitingsrede verwys na die feit dat hy met sy veldtog vir ‘n tweede oorgang die kous oor die kop gekry het. Hy het soveel as moontlik beredder deur te sê die takke het in hul wysheid besluit die ANC is in ‘n deurlopende proses betrokke om ekonomiese vryheid (weens die impak van apartheid) te bewerkstellig, maar gemeld dat na Mangaung die ratte verwissel moet word. Die “tweede oorgang”-veldtog is as ‘n manifestasie van Zuma se veldtog beskou om aan die einde van die jaar as leier herkies te word, en sodoende ‘n tweede termyn as president te verseker.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.