ANC-kongres: Tweede verslag

Die tafel is nou al amper gedek vir die een enkele kwessie wat die meeste belangstelling van die kongres wek – die leierskapsverkiesing wat vandag behoort plaas te vind. Die volledige uitspraak van die grondwetlike hof oor die Vrystaatse “regime change”-groep se suksesvolle aansoek kan egter vir oulaas sake verander.

In afwagting op die uitspraak, en met die oog op moontlike toekomstige hofsake, stem die afgevaardigdes van die Vrystaat en Noordwes op stembriewe van ‘n ander kleur.

Die hofsake bring egter ook ‘n onrusbarende tendens na vore – skerp uitsprake oor hofuitsprake deur leiers wat van beter behoort te weet. Volksblad haal die Vrystaatse premier, Ace Magashule soos volg oor die grondwethof se uitspraak aan: “Die enigste wet waaraan ek my steur in dié geval, is die grondwet van die ANC. Die howe kan kom probeer om my provinsiale konferensie te kom reël.” Sou hy reg aangehaal wees, kan dit as ‘n verbreking van sy ampseed beskou word om die land se grondwet te beskerm, wat die rol van die howe insluit.

Pres. Jacob Zuma sal na verwagting met of sonder die stemme van dié twee provinsies as leier herkies word, en so waarskynlik ‘n einde aan adjunk-president Kgalema Motlanthe se politieke loopbaan binne die ANC bring. Motlanthe het hom in ‘n alles-of-niks-stap begeef deur nie die nominasie as adjunk-president te aanvaar nie. Hiermee word die moontlikheid dat die ANC kan skeur lewend gehou.

Intussen is daar ‘n groeiende ontevredenheid onder ‘n deel van die stad se inwoners aan die opbou. Erge verkeersontwrigtings in die omgewing van die UV-kampus waar die verrigtinge plaasvind, geraas en openbare onsedelikheid by verbandhoudende partytjies en rommelstrooi maak inwoners warm onder die kraag.

Die woer-woer-inligting oor of die vier “regses” wat gearresteer is, met ‘n beplande optrede by die kongres verbind word hou ook die aandag op dié groepie gevestig.

Die belangrikste sake – die leierskapsverkiesing en belangrike beleidsbesluite oor onder meer nasionalisering, lê nog voor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.