Hofbevel teen ANC se optog na skool

AfriForum het ʼn hofbevel teen ʼn protesoptog na Hoër Volkskool Heidelberg wat gisteraand bekragtig is verwelkom as ʼn oorwinning vir kinders se reg op gehalteonderwys. ʼn Dringende aansoek is gister deur die skool se beheerliggaam, ondersteun deur AfriForum, in die Noord-Gautengse hooggeregshof gebring teen die ANC se Lesedi-gebiedskomitee se plan om vandag om 10:00 ʼn protesoptog na die skool te hou, terwyl die matriekleerders van die skool met die rekordeksamen besig is.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is AfriForum ten gunste van vryheid van spraak en protesoptrede binne die raamwerk van die wet, maar wanneer sodanige optrede nie sake van kernbelang, soos die welstand van kinders, gehalteonderrig en die aflê van eksamens in ag neem nie, is dringende optrede daarteen noodsaaklik.

Volgens die ANC Lesedi-gebiedskomitee, sou die optog plaasvind om ʼn memorandum aan die skool te oorhandig rakende uitdagings (“challenges”). Dit hou waarskynlik verband met die skorsing van ʼn leerder, maar die skorsingsproses se afhandeling berus tans by die provinsiale onderwysdepartement, en nie die skool nie. Herhaalde versoeke dat die optog uitgestel word tot ná afloop van die rekordeksamen, het op dowe ore geval. Regsaksie was dus die enigste wyse waarop die beheerliggaam kon verseker dat die matrikulante, asook die ander leerders van die skool, nie ontwrig word nie.

AfriForum vind dit onaanvaarbaar dat die ANC bereid is om kinders uit te buit ter bevordering van ʼn eie politieke agenda. “Probleme in onderwys het meegebring dat die meerderheid van die land se leerders nie gehalteonderrig kry nie. Dit is hoog tyd dat die regerende party die belange van die nuwe geslag Suid-Afrikaners begin dien in plaas van hulle eie politieke agendas,” het Bailey na afloop van die saak gesê.

Ingevolge die hofbevel mag geen protesaksie plaasvind tot ná 23 September 2013 nie.

AfriForum wens die leerders van Hoër Volkskool Heidelberg, asook al die ander matrieks van 2013, sukses met die rekordeksamen toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert Malan ·

Klomp siek bliksems. Dis net hul eie belange wat tel, niks anders nie.

Willy ·

Mooi so AfriForum, goed om hulle te wys wat dissipline is.
Trots op jou wat die saak suksesvol gevoer het want jy is baie bekwaam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.