ANC-lede by Nkandla in hegtenis geneem

Een van die ANC-lede wat glo op 11 Januarie 2014 klippe gegooi het by Nkandla Foto: Giordano Stolley/SAPA

Een van die ANC-lede wat glo op 11 Januarie 2014 klippe gegooi het by Nkandla Foto: Giordano Stolley/SAPA

ʼn Aantal ANC-ondersteuners is in hegtenis geneem ná ʼn bakleiery Saterdag met EFF-lede naby aan pres. Jacob Zuma se Nkandla-woning.

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het ʼn huis, wat hulle langs die Nkandla-woning vir Sthandiwe Hlongwane en haar kleinkinders gebou het, aan die gesin oorhandig.

ʼn Groep polisiebeamptes het die situasie sedert Saterdagoggend gemonitor en die twee groepe uit mekaar gehou. Die ANC-ondersteuners was daar naby op ʼn koppie toe die EFF-lede van hul vergadering teruggekeer en begin sing het.

ʼn Paar lede uit die ANC-groep het glo klippe in hulle rigting begin gooi en die polisie het met knuppels, ʼn waterkanon en traangas ingegryp. Rubberkoeëls is gevuur en mense het weggehardloop en skuiling gesoek.

ʼn Aantal ANC-ondersteuners is hierna in hegtenis geneem en agter in ʼn publiekeorde-polisievoertuig gelaai. Een het glo sy middelvinger gewys voordat die voertuig weggery het.

“Dertig mense is in hegtenis geneem en sal Maandag in die Nkandla-landdroshof verskyn op aanklag van openbare geweld,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê.

Lede van die ANC het vroeër die pad, wat na die huis lei, versper en Julius Malema, leier van die EFF, se motor verhoed om verby te ry. Malema het uitgeklim en deur die skare gestap om by die huis uit te kom.

Nadat hy deur die skare gestap het, het ANC-ondersteuners glo waterbottels en klippe gegooi.

Die huis wat die EFF vir Hlongwane gebou het, het twee slaapkamers, ʼn kombuis, badkamer en septiese tenk. Die huis is ongeveer 300m ver van die Nkandla-woning af gebou. Die party het glo ook meubels vir die huis verskaf.

Malema sê pogings om hom te verhoed om Hlongwane se huis te besoek is ongrondwetlik. “Ek is nie Helen Zille [leier van die Demokratiese Alliansie] nie, ek kan nie gekeer word nie,” het hy gesê.

Zuma se seun, Edward, was onder die ANC-ondersteuners wat teenwoordig was, maar hy was nie een van die persone wat in hegtenis geneem is nie. “Nie eers Edward se pa kon daarin slaag om my te stop nie,” het Malema gesê.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.