ANC-LP en vrou glo in onderonsie met polisie

Nyami Booi, die 53-jarige ANC-LP, het Maandag in die Randburgse landdroshof verskyn nadat hy en sy 39-jarige vrou, Jacqueline, glo die naweek ʼn onderonsie met die polisie gehad het.

The Sunday World het Dinsdag berig Jacqueline het Sondagoggend in die vroeë oggendure van die polisie af weggejaag, toe hulle haar in Rivoniaweg in Sandton van die pad af wou trek nadat sy vermoedelik onder die invloed bestuur het. Jacqueline het glo van die polisie probeer wegjaag in haar silwer Mercedes en het tot by haar huis in Morningside gery, die voertuig in die erf in getrek, en die hek agter haar toegemaak, voor die polisie daar opgedaag het.

Nyami het glo daarna uit die huis uit gestorm en sy vrou beveel om te gaan slaap. Hy het glo daarna die polisiebeamptes konfronteer waarna hy die beamptes glo ook gevloek en skel het. Hy het na bewering ook gedreig en gesê die beamptes gaan hul werke verloor. “Weet julle wat het met die polisiemanne gebeur wat Winnie Madikizela-Mandela op die M1 afgetrek het?” het hy glo gesê. Nyami het na bewering aggressief opgetree en ʼn beampte aan sy klere rondgepluk en ʼn worsteling het ontstaan. Jacqueline het intussen ook in die worsteling betrokke geraak, waarna die polisie daarin kon slaag om Nyami en Jacqueline te boei en in hegtenis te neem.

Die polisie het Jacqueline van nalatige en roekelose bestuur aangekla waarna sy vrygelaat is. Nyami is ʼn paar ure later op borgtog van R500 vrygelaat.

Nyami het Maandag in die hof verskyn op aanklagte van inmenging met polisiepligte, intimidasie, aanranding en verset teen arrestasie. Hy is nie gevra om te pleit nie. Die saak is tot volgende maand uitgestel.

Jacqueline gaan na verwagting volgende jaar in die hof verskyn, afhangende van die finalisering van haar bloed-alkoholtoetse deur die polisie se forensiese laboratorium in Pretoria.

Kamesh Maharaj, Nyami se prokureur, het namens sy kliënt al die aantygings ontken en as snert afgemaak. Hy het aangedui dat sy kliënt onskuldig gaan pleit op al die aanklagte teen hom.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.