ANC-manifes: Zuma sê oor grondhervorming, tenders en werkskepping

Zuma verwelkom ANc-ondersteuners by die party se bekendstelling van sy manifes. Foto: SAPA

Zuma verwelkom ANC-ondersteuners by die party se bekendstelling van sy manifes. Foto: SAPA

President Jacob Zuma het Saterdag tydens die ANC se bekendstelling van sy manifes vir die 2014-verkiesing gesê ʼn tenderraad gaan op die been gebring word om alle regeringstenders te beoordeel.

“Ons gaan nou die tenderstelsel, wat ʼn groot probleem in ons land is, verander,” het Zuma aan ANC-ondersteuners in die Mbombela-stadion in Nelspruit, Mpumalanga gesê. “Staatsamptenare en openbare verteenwoordigers sal verbied word om sake met die staat te doen.” Zuma sê die ANC sal ook voortgaan om misdaad te beveg en die polisie se kapasiteit uit te brei. Hy sê alle ANC-lede moet hulself opnuut verbind tot die idee om die mense te bedien.”

Zuma het ook gesê die ANC wil in die volgende vyf jaar minstens ses miljoen werksgeleenthede skep. Hy sê die meeste van die werksgeleenthede sal vir jongmense gereserveer word. Zuma sê die party wil ook die aantal opleiding- en vaardigheidsentrums landwyd vermeerder. Hy sê die finansiële sektor sal aangemoedig word om meer inklusief en toeganklik te wees.

Die ANC sal intussen ook grondhervorming bespoedig ten einde die lewensomstandighede van veral diegene in landelike gebiede te verbeter. “Dit is ʼn wydverspreide erkenning dat die gewillige koper/verkoper-model nie suksesvol was nie. Ons vra vir die finalisering van die registrasie van begunstigdes ten einde grondonteiening te bespoedig.” Zuma sê grondhervorming sal oor die volgende vyf jaar uitgebrei word ten einde meer produktief te wees en tot voedselsekerheid by te dra.

Zuma sê intussen die ANC het vordering gemaak in die proses om die nalatenskap van apartheid om te keer. Hy sê hoewel die party vordering gemaak het bestaan apartheid se nalatenskap steeds. “Vandag stel ons ʼn manifes bekend wat ons mense van dié nalatenskap sal bevry.” Hy sê dit is geen geheim dat die meerderheid van Suid-Afrika se armes swart mense is nie. Zuma sê dit gaan verander. Hy sê alle burgers sal in die rykdom van die land deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Demokraat ·

“Hy sê armes sal in die rykdom deel” wat Zuma ookal hiermee bedoel want dis ‘n ou sêding in Afrika en steeds gaan die groot massas in Afrika gebuk onder armoede en ellende terwyl die stinkryk elite in weelde lewe en voortgaan met hul selfverrykingsproses.

Kom kyk maar weer oor ‘n dekade of twee na die welstand van Suid-Afrika se mense en dieselfde armoede sal nog steeds bestaan.

Ongelukkig glo die massas oningeligtes vir Zuma en gaan trek hul kruisies weereens agter die ANC – wat ‘n jammerte om mense op so ‘n manier te mislei.

Gawie Botha ·

Die SP het vandag wat werkskepping betref vir hom self n “Valbyl” gestel wat sy kop gaan afkap! Die Een miljoen lewensvatbare werksgeleenthede wat hy per jaar wil op tower,gaan wat soort produksie lewer,en wie gaan dit koop!

Grassie ·

Zuma jok net so erg soos ou Mac. Hoe gaan hy `n miljoen werksgeleenthede per jaar skep? Dit is nie moontlik nie en hy weet dit. Hy is reg – die meeste armes is swart. Die bevolkingsamestelling swart teenoor wit is ongeveer 15 teen een. Vermenigvuldig die getal wit armes met 15 dan ontstaan daar `n ander prentjie. Hy wil blankes se grond vat maar nie teen `n billike prys nie. Dit laat mens dink aan Mugabe. Ou Mugaab was ten minste eerlik – hy het gesê hy vat die grond en te hel met wat enigeen sê, hy het nie met “trieks” gekom soos Zuma nie. Zuma is besig om die rassekaart al meer in te span. Ek dink daar lê vir ons moeilike tye voor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.