ANC-moord: LUR, vyf ander kry borg

China Dodovu, Noordwes se LUR vir plaaslike regering, en vyf ander mans wat beskuldig word van die moord op ’n ANC-streeksekretaris in Noordwes is gister op borgtog vrygelaat.

Landdros Thebogo Thupayatlase het borgtog van R20 000 aan Dodovu toegestaan. Paul Molomonyane, Itumeleng Molebatsi, William Malefo en Kgotso Kali het borgtog van R5 000 gekry en Papiki Babuile is op borgtog van R10 000 vrygelaat. Die ander twee beskuldigdes Jeffrey Letuka en Sohlanga Sekhakhane is borgtog geweier. Die agt mans word aangekla van die moord op Obuti Chika, wat op 14 Desember voor sy huis in Klerksdorp doodgeskiet is. Die hof het Dinsdag gehoor dat Sekhakhane en Letuka glo gedwing is om te erken dat hulle die misdaad gepleeg het. Letuka se regsverteenwoordiger het aan die hof gesê dat sy kliënt gemartel is deur die polisie. Sekhakhane het aangevoer dat die polisie hom aangerand het en dat hy onder dwang ʼn bekentenis moes onderteken. Volgens die polisie het Letuka na sy arrestasie gesê dat Kali hom en ʼn vriend genader en gevra het of hulle Chika sal vermoor. Kali het hulle glo R50 000 beloof vir die moord op Chika. Die saak is tot 4 April uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.