ANC ontken bewerings oor blouligkonvooi se tref-en-trap

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa Foto: Werner Beukes/SAPA

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC het Sondag bewerings van die DA, dat adjunkpresident Cyril Ramaphosa se blouligkonvooi ʼn fietsryer in Wedela, Johannesburg, raakgery het, as “leuens” beskryf.

“Die ANC veroordeel ten sterkste die roekelose en onverantwoordelike leuens van die Demokratiese Alliansie waarin hulle Ramaphosa se konvooi beskuldig dat hy ʼn fietsryer in Wedela raakgery en toe weggery het,” het Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, in ʼn verklaring gesê.

John Moodey, leier van die DA in Gauteng, het vroeër in ʼn verklaring gesê dat DA-aktiviste die ongeluk sien gebeur het. Volgens die ooggetuies het Ramaphosa se konvooi Sondag glo ʼn fietsryer raakgery en hy is ernstig beseer.

Moodey het gesê Ramaphosa het ʼn stempunt in Wedela verlaat toe sy konvooi in die verkeer vasgesit het. “Nadat hulle ʼn paar minute lank in die verkeer vasgesit het, het die Merafong-polisie hul blouligte aangeskakel en vinniger begin ry. ʼn Fietsryer is raakgery,” het Moodey in die verklaring gesê. Hy beweer die konvooi het weggery en die fietsryer met ernstige kopbeserings op die toneel gelaat.

“Dit is ʼn onaanvaarbare misbruik van mag en is simptomaties van die ANC-leierskap se arrogansie wanneer hulle met mense werk,” het Moodey gesê.

Brig. Neville Malila, woordvoerder vir die Gautengse polisie, het egter die bewerings ontken. “Dit is nonsens, dit het nooit gebeur nie. Die fietsryer het geval voordat die konvooi daar verby is,” het Malila gesê.

Mthembu het gesê Ramaphosa se konvooi het op die man afgekom waar hy en sy fiets langs die pad lê. “As verantwoordelike landsburgers het Ramaphosa se konvooi stilgehou om ondersoek in te stel. Mense op die toneel het aan Ramaphosa se span gesê die fietsryer het ʼn boom getref,” het Mthembu verduidelik. “Ramaphosa se span het die man ondersoek en besef hy kry ʼn epileptiese toeval. Hulle het probeer om hom by te bring en die verkeerspolisie is versoek om ʼn ambulans te ontbied.”

Moodey sê egter hy volstaan by sy verklaring, gebaseer op die inligting wat hy ontvang het.

Mthembu het die DA daarvan beskuldig dat hy die voorval wil gebruik in ʼn poging om “goedkoop politieke punte” te behaal. “Die ANC eis dat die DA onvoorwaardelik om verskoning sal vra en sy verklaring sal terugtrek,” het Mthembu gesê. “Die DA se gedrag in dié verband, is teenstrydig met die gedragskode van politieke partye wat aan die 2014-verkiesing wil deelneem.” Die ANC gaan die saak glo aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) voorhou. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Die boom moes net sy blou ligte aangesit het dan het die man hom gemis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.