ANC ontken Mandela-besoekverbod

Foto: Nelson Mandela Foundation/SAPA

Oudpresident Nelson Mandela se toestand bly onveranderd, het die presidensie Maandag bevestig.

“Mandela bly nog in die hospitaal en sy toestand is onveranderd. Hy is Saterdagoggend in die hospitaal opgeneem om vir ʼn longkwaal behandeling te ontvang,” het die presidensie Maandag in ʼn verklaring gesê.

“President Jacob Zuma, namens die regering en die land, wens Madiba ʼn spoedige herstel toe en herbeklemtoon sy beroep op die media en die publiek om Madiba en sy familie se privaatheid te respekteer.”

Dit is die eerste opvolg oor Mandela se gesondheid nadat die presidensie Saterdag gesê het hy is in ʼn “ernstige maar stabiele” toestand in die hospitaal opgeneem.

Intussen het die ANC gerugte ontken dat Madiba se familie ʼn verbod op amptelike besoeke gestel het. Die Star het Maandag berig Madiba se familie het alle besoekers, insluitend regeringleiers en senior personeel van die ANC, verban en dat slegs familie hom mag besoek.

“Die ANC verwerp die berigte. Ons het met die familie gepraat oor die berig en hulle ontken dat hulle ooit so versoek gemaak het of met die media gepraat het,” het Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, in ʼn verklaring gesê.

“Ons weet wel dat daar, gegewe die druk oor sy verblyf in die hospitaal, algemene beperkings is oor wie toegelaat kan word om Madiba te besoek. As die ANC het ons hierdie verantwoordelikheid na president Zuma verwys om met die familie en die hospitaal te skakel.”

“Die ANC neem kennis van die presidensie se verklaring oor Mandela se gesondheid. As party sal ons aanhou bid dat hy spoedig herstel en ons doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners en die wêreld om hom en sy familie in hul gebede op te dra. Ons doen ook ʼn beroep op alle mediahuise en joernaliste om Madiba se gesondheid te respekteer en die kwessie as ernstig te beskou en nie ongegronde spekulasies te maak nie,” het hy bygevoeg.

Lees ook:
Net familie glo by Madiba toegelaat
Madiba: ‘Laat hom gaan’
Madiba in hospitaal opgeneem

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.