ANC ontsteld oor “sensuur” op Wikipedia

Só het 'n blad oor die ANC vir 'n ruk lank op Wikipedia vertoon.

Die ANC sê die “sensuur” wat op ʼn inskrywing oor die party op die aanlyn-ensiklopedie Wikipedia aangebring is, kom neer op “vandalisme” en is “onbeskaafd”.

Sekere sinne op die webblad waar melding gemaak word van korrupsie in die party is met swart blokke toegemaak. ʼn Woordvoerder van die ANC, Keith Khoza, sê die veranderinge wat op die webblad aangebring is strook nie met ʼn beskaafde samelewing nie. Enige internet-gebruiker kan tans veranderinge aanbring op Wikipedia. Die veranderinge op die ANC se blad is in protes gedoen teen die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting wat Dinsdag deur die Nasionale Vergadering deurgevoer is. Burgerlike organisasies en die media is ontstoke oor die deurvoer van die sogenaamde “geheimhoudingswet” en sê dit is ʼn aanval op mediavryheid. Die ANC se blad is egter weer later reggestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.