ANC se eeufeesvieringe beloop meer as R100 miljoen

Die ANC het Dinsdag bekendgemaak dat sy eeufeesvieringe aanstaande jaar meer as R100 miljoen gaan kos.

Die ANC se nasionale voorsitter, Baleka Mbete, het Dinsdag aan verslaggewers gesê hoewel dit nie goedkoop is nie, glo die ANC dat dit belangrik is aangesien toekomstige geslagte moet weet waar die party vandaan kom. Mbete sê die ANC is besig om argiefmateriaal en ander inligting oor die party van regoor die wêreld bymekaar te maak sodat dit op een plek geberg kan word. Mbete sê van die inligting is van onskatbare waarde. Sy sê “vriende” van die ANC help met die befondsing hiervan. Nagenoeg 120 duisend mense sal na verwagting in Januarie volgende jaar die hoofvieringe in Mangaung in die Vrystaat bywoon. Mbete sê die ANC is reeds die afgelope twee jaar besig om vir die vieringe voor te berei wat op 6 Januarie sal begin en op 8 Januarie sal eindig. Die vieringe sal in Waaihoek in die Wes-Kaap begin aangesien die party hier gestig is. Die naweek sal onder meer bestaan uit ʼn nagwaak, ʼn prysuitdeling, ‘n tradisionele reinigingseremonie,’ n presidensiële gala-aand en dan die viering by die Mangaung-rugbystadion. Talle internasionale gaste sal na verwagting ook die geleentheid bywoon. Mbete sê die vieringe sal regdeur 2012 voortgaan wanneer daar elke maand ʼn voormalige ANC-president geëer sal word. Die vieringe sal op 8 Januarie 2013 afsluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.