Die ANC het regter Colin Lamont se beslissing dat die woorde “Skiet die boer” haatspraak is, as onstellend beskryf.
Die regerende party sê in ʼn verklaring hy beskou die uitspraak as ʼn poging om Suid-Afrika se geskiedenis te herskryf. Die party sê die uitspraak is teen die party se behoefte om die verlede te aanvaar en die toekoms te bewaar as ʼn organisasie en as mense. Die ANC sê hy sal die uitspraak noukeurig bestudeer voor hy ʼn volledige reaksie daarop gee. Die Christen Demokratiese Party het intussen versoek dat die regerende party sy jeugligaleier, Julius Malema, uit sy amp moet verwyder. Die CDP se leier, Chris Botha, sê in ʼn verklaring Malema het keer op keer bewys hy kan nie ʼn positiewe rol in die land se toekoms speel nie. Die Afrikanerbond sê intussen die uitspraak is die eerste stap na nie-rassigheid. Die Afrikanerbond se sekretaris, Jan Bosman, sê dit is die eerste stap om Malema maar ook ander politici en hoë profiel openbare figure, aanspreeklik te hou en te dwing om versigtig te wees met die gebruik van sekere woorde. Cope se jeugbeweging sê hy beskou die uitspraak as ʼn waarskuwing aan politici dat niemand bo die reg verhewe is nie. TLU-SA het intussen die ANC en sy jeug gevra om die uitspraak te aanvaar.
Lamont het Maandag in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg beslis dat die woorde “Skiet die boer” haatspraak is.Lamont het gelas dat dié woorde, sowel as “baya raypha” (hulle verkrag) nie weer in privaat of openbare hoedanigheid gesing mag word nie. Malema is ook beveel om ‘n gedeelte van AfriForum se regskostes te betaal. Malema het nie die hofverrigtinge bygewoon nie.