ANC sê Vrydag oor Malema en kie se appèl

Die ANC sê hy sal Vrydag bevestig of die geskorste ANC-jeugligaleier en sy medebeskuldigdes Donderdag se middernag sperdatum gehaal het om appèl aan te teken teen hulle skorsing.

Die ANC se woordvoerder, Keith Khoza, kon teen 22:00 Donderdagaand nie berigte bevestig oor of Malema en sy medebeskuldigdes appèl aangeteken het nie. Malema het vroeër gisteraand ʼn lesing gedoen in Bloemfontein waar hy uitgevaar het teen die leiers van die regerende party. Malema het aan die gehoor gesê: “Ons gaan geskors word. Ons gee nie om nie.” Indien Malema en sy medebeskuldigdes nie teen Donderdagaand 00:00 appèl aangeteken het nie, sal hulle geskors bly. Die jeugliga se geskorsde woordvoerder, Floyd Shivambu, wou nie gisteraand bevestig of hulle reeds appèl aangeteken het nie. Malema, Shivambu, die adjunk-president Ronald Lamola, tesourier-generaal Pule Mabe, sekretaris-generaal Sindiso Magaqa en die adjunk sekeretaris-generaal Kenetswe Mosenogi is twee weke gelede deur die ANC se nasionale dissiplinêre komitee skuldig bevind. Malema is vir vyf jaar geskors en is aangesê om afstand te doen van die leierskap. Shivambu is vir drie jaar geskors terwyl die ander vier lede vir twee jaar geskors is, met die sanksie self wat vir drie jaar opgeskort is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.