ANC sê Zuma het nie rand laat tuimel

Berigte wat ‘n toespraak deur president Jacob Zuma aan die daling van die rand koppel is “ongegrond” het die ANC Vrydag gesê.

“Voorstelle in die media wat die president se toespraak met die nuus van die dalende rand verbind is wetenskaplik ongegrond,” het Moloto Mothapo, hoofsweep van die ANC, gesê. “Die president se sterk ingryping om die land se ekonomiese uitdagings aan te spreek kan nie die rede vir die daling van die rand wees nie.”

Die rand het Donderdag, ‘n paar uur nadat Zuma ‘n toespraak gelewer het om die nasie en beleggers te verseker dat die regering die onstabiliteit van die mynboubedryf hanteer, tot sowat R10 teen die Amerikaanse dollar verswak. Dit is die laagste in vier jaar.

Mothapo se kantoor sê die mynboubedryf verwelkom Zuma se versoek om saam met die regering en arbeid te werk, sowel as die belangrikheid van die toespraak. Die kantoor verwelkom ook Zuma se “openhartige weerspieëling” van die toestand van die Suid-Afrikaanse ekonomie en sê die land vaar goed op die ekonomiese front sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994.

Zuma het Donderdag gesê Suid-Afrika moet ‘n stabiele mynboubedryf het om sy ekonomiese groei te verstewig. “Ons land benodig ‘n stabiele en groeiende mynboubedryf. Mynbou is al die afgelope 130 jaar ‘n sleutelfasset in die land se ekonomie,” het Zuma gesê.

Sowat ses persent van die land se bruto binnelandse produk (BBP) word deur mynbou verteenwoordig en dit genereer meer as 60% van die land se uitvoerinkomste.

Volgens Zuma is die mynboubedryf negatief geraak deur globale ekonomiese groei wat tans, veral in Europa, onder druk is.

“Die wêreldwye resessie het tot noemenswaardige afnames in kommoditeitspryse gelei en ‘n afname in die aanvraag na minerale oorsee. Wanneer ons mynboubedryf onder druk verkeer, beïnvloed dit die res van ons ekonomie.”

Zuma sê 2012 was ‘n moeilike jaar vir die mynboubedryf, met die afsterwe van meer as 40 mense tydens ‘n staking in Marikana in Noordwes. “Die regering het arbeidsverhoudinge in die mynboubedryf aangespreek,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.