ANC skors Noordwes-burgemeester

Afrika Thale, burgemeester van die Ramotshere Moiloa-munisipaliteit in Noordwes, is vir drie jaar uit die ANC geskors.

Die ANC se tugkomitee in Noordwes het Woensdag bekend gemaak dat Thale sy amp as burgemeester moet ontruim. Thale het tereg gestaan op ses aanklagte van wangedrag nadat hy geweier het om as burgemeester te bedank nadat die ANC se provinsiale werkskomitee hom gevra het om dit te doen aangesien hy nie die verkose kandidaat van die nasionale of provinsiale uitvoerende komitees was nie. Thale het aangevoer dat hy die behoorlik verkose kandidaat was en dus geen rede kon insien om aan die provinsiale uitvoerende komitee se eis te voldoen nie. Die komitee het die saak na die tugkomitee verwys nadat Thale verskeie oproepe om te bedank geïgnoreer het.

Die ANC het vroeër die maand sy burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit, Jonas White, uit die party geskors nadat hy onder meer aan seksuele teistering skuldig bevind is. White het glo sy onderburgemeester, Lorna Scheepers, seksueel geteister. Hy het glo verskeie SMS-boodskappe van ʼn seksuele aard aan Scheepers gestuur asook foto’s van sy ereksie. White het ook glo SMS-booskappe van ʼn seksuele aard aan twee meisies, onderskeidelik 15 en 16 jaar oud, gestuur. Hy is ook daaraan skuldig bevind dat hy omkoopgeld van R60 000 van ʼn kontrakteur aanvaar het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.