ANC skuif Malema-verhoor na regsdreigement

Die ANC-jeugligaleier, Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC het aangekondig dat die dissiplinêre verhoor van jeugligaleier, Julius Malema, en vier van sy kollegas nie langer by Luthuli-huis in die Johannesburgse middestad sal plaasvind nie.

Die voorsitter van die ANC se Nasionale Dissiplinêre Komitee, Derek Hanekom, sê hulle het besluit om die verhore te skuif as gevolg van die gewelddadige betogings van verlede week. Hanekom sê daar is ook besluit om die verhoor te skuif aangesien die ANC gedreig word met regsaksie as gevolg van die ontwrigting wat die verhoor veroorsaak vir besighede in die middestad. ʼn Regsfirma het die ANC tot 16:00 Dinsdagmiddag kans gegee om aan te dui of die verhoor geskuif gaan word alvorens hulle met regsaksie sou voortgaan. Talle strate was verlede week in die middestad gesluit nadat oproerige jeugliga-ondersteuners chaos gesaai het toe hulle polisiebeamptes en joernaliste met klippe bestook het en asblikke aan die brand gesteek het. Malema en vyf van sy kollegas se verhoor is geskeduleer om Sondag voort te gaan. Dit is egter nie duidelik waar die verhore nou gaan plaasvind nie. Malema en sy kollegas word daarvan aangekla dat hulle verdeeldheid in die ANC saai en die party in oneer gebring het. Dit kom nadat die jeugliga ʼn verklaring uitgereik het waarin hy gesê het hy sal ʼn taakspan na Botswana stuur om regime verandering in die land te weeg te bring. Indien Malema skuldig bevind word kan hy sy ANC-lidmaatskap kwyt wees en dus nie langer as jeugligaleier dien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.