ANC soek “tweede oorgangsfase”

Die ANC het Maandag sy konsep-beleidsdokumente bekendgemaak en sê dit fokus op ʼn “tweede oorgangsfase” vir Suid-Afrika.

“Die ANC van vandag is werksaam in ʼn Suid-Afrika waar die party se beleid bygedra het tot verandering. Ons is ook werksaam in veranderende Afrika en wêreld,” het die voorsitter van die subkomitee rakende beleid, Jeff Radebe, gesê. Die dokument stel onder meer voor dat belasting van 50 persent gehef word op die opbrengs van beleggings rakende die huur van hulpbronne. Die geld sal in ʼn sogenaamde welvaartfonds betaal word wat aangewend sal word vir minerale ontwikkeling, opnames en tegniese ontwikkeling van menslike hulpbronne, navorsing en ontwikkeling. Rakende maatskaplike transformasie word voorgestel dat dienste aan kinders verbeter word sowel as strenger optrede in die stryd teen alkohol-en dwelmmisbruik. Oor grondhervorming, word dit gesê dat die huidige gewillige koper, gewillige verkoper metode pryse verdraai. Daar word voorgestel dat ‘n grondbestuurskommissie ingestel moet word om riglyne rakende grond te ontwikkel. ʼn Grondwaardeerder-generaal word voorgestel om te help om bestendigheid te bring aan grondwaardes en finansiële vergoeding te bepaal in gevalle van grondonteiening. Volgens die dokument moet grondonteiening ook grondonteiening vir openbare belang insluit, asook teruggawe.

Rakende gesondheid is daar ‘n behoefte vir die integrasie van die nasionale gesondheidsorgversekering (NVG). Transformasie van die media en die verbreding van eienaarskap word voorgestel ten einde bemagtigingsdoelwitte te bereik. Met betrekking tot die provinsies, word dit “ernstig oorweeg” om die Grondwet te wysig ten einde die provinsies te hervorm en versterk. Radebe sê daar is niks fout met die ANC se bespreking van voorgestelde veranderinge aan die Grondwet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.