ANC verwerp Malema se aansoek om klagtes te laat vaar

ANC-jeugligaleier, Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC se Nasionale Dissiplinêre Komitee het sy jeugligaleier, Julius Malema, se aansoek om die klagtes teen hom ter syde te stel, verwerp.

Die dissiplinêre verhoor teen Malema en vyf van sy kollegas is Woensdag uitgestel nadat Malema se regsverteenwoordigers aansoek gedoen het om die klagtes teen hom te laat vaar. Malema se regsverteenwoordigers het aangevoer die regte prosedures is nie gevolg toe hy aangekla is nie. Talle Malema-ondersteuners het intussen weer vandag voor Luthuli-huis en by Beyers Naude-plein in Johannesburg bymekaargekom. ʼn Streng polisieteenwoordigheid heers in die middestad om ʼn herhaling van Dinsdag se geweld te voorkom. Ontstoke jeugliga-ondersteuners het Dinsdag chaos gesaai in die middestad toe hulle polisiebeamptes en joernaliste met klippe bestook het. Malema en vyf mede-beskuldigdes word dissiplinêr verhoor nadat hulle daarvan aangekla is dat hulle die ANC se naam in oneer gebring en onmin in die ANC gesaai het. Malema se verhoor gaan Maandag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.