ANC verwerp omkopery-gerugte

Sipho Tandani

Die ANC het gerugte ontken dat Sipho Tandani, burgemeester van Ndlambe in die Oos-Kaap, by omkopery betrokke is.

Die Dispatch Online het Donderdag berig Tandani het glo ʼn winsgewende kontrak aan ʼn hardewarewinkel aangebied om private skuld van R92 000 te vereffen. Hy het glo verlede jaar die skuld aangegaan om verbeterings aan sy huis in Station Hill aan te bring.

Twintig ANC afgevaardigdes het Dinsdag Tandani ondersteun toe hy voor die party ontken het dat hy ʼn kontrak aan Builders Trader aangebied het in ruil dat sy skuld vereffen word.

Die bewering is op 18 April deur Rory McNelis, Builders Trader se direkteur, in ʼn beëdigde verklaring gemaak tydens ʼn sekwestrasieaansoek. McNelis sê in sy verklaring hy het die aanbod van die hand gewys en sy prokureur opdrag gegee om regstappe te doen in ʼn poging om die geld terug te kry.

Die DA in Ndlambe het die sekwestrasiedokumentasie aan die polisie oorhandig. Die polisie het ʼn ondersoek na beweerde korrupsie van stapel gestuur.

Scara Njadayi, die ANC se streeksekretaris, beskryf die bewering as “ernstige politiese aantygings”.

Hy sê na die vergadering met Tandani, is die ANC se leiers tevrede dat Tandani en die party “korrupsievry” is.

Volgens Njadayi het Tandani intussen twee lenings bekom en die geld aan Builders Trader terug betaal.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Die ANC-ringkoppe hoef nie te besluit of hul kameraad skuldig is aan omkopery al dan nie. Laat die hof dit maar bepaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.