ANC verwerp openbare-belang-verweer

Een van die deelnemers aan 'n optog na die parlement in Kaapstad teen die Wetsonwerp op die Beskerming van Inligting. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Die ANC het die moontlikheid om die openbare-belang-verweer in die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting in te sluit, finaal die nekslag toegedien.

ANC-LP Luwellyn Landers het die argument verwerp dat staatsgeheime wat openbaar gemaak word onder die verweer van openbare belang fluitjieblasers sal beskerm, deursigtigheid sal aanmoedig en korrupsie sal beveg. Landers meen die aansoek is slegs daarop gemik om te keer dat lede van die media tronk toe gestuur word wanneer hulle staatsgeheime publiseer. Hy sê die klousule sal nie media vryheid of vryheid van uitdrukking ondermyn nie. Volgens die klousule sal joernaliste persoonlike dokumente aan die polisie moet oorhandig en die minister van polisie sal moet versoek om die inligting te herklassifiseer indien hulle voel dit hoort in die openbare domein.

Landers se uitlatings het egter ʼn hewige debat ontketen waartydens ANC-LP’s die Demokratiese Alliansie se voorstel, om die publikasie van sekere inligting te beskerm indien die inligting geklassifiseer is om verkeerde optrede weg te steek, vergelyk het met die wettiging van diefstal. Die DA-LP, Dene Smuts het teruggekap deur te sê diefstal en korrupsie is ʼn groot probleem in die land en dat dit die plig is van enige demokraat om dit aan die groot klok te hang. Sy sê die verweer van openbare belang sal nie beteken dat die bekendmaking van staatsgeheime wettig is nie en dat indien ʼn persoon nie die verweer kan bewys nie hulle steeds vervolg kan word. Dit blyk egter of die regerende party sy meerderheid stem sal gebruik om die wetsontwerp later die week te finaliseer. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursfroum (Sanef) het intussen sy kommer uitgespreek oor die nuutste verwikkelinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.