ANC-video wat op SABC3 verbied is, al amper 10 000 keer gekyk

ʼn Video van ʼn advertensie wat glo die ANC in ʼn slegte lig stel en wat deur SABC3 verbied is, is teen 18:00 Dinsdagaand reeds 9509 keer op YouTube gekyk.

Dit volg na die SAUK die adverteerder, die burgerregte-organisasie AfriForum, se advertensie op SABC3 verbied het omdat dit volgens hulle die ANC in ’n slegte lig stel.

In hul antwoord aan AfriForum het die SAUK laat weet dat die video te negatief teenoor die ANC is en dat hulle nie materiaal mag uitsaai wat enige politieke party in ’n slegte lig stel nie.

Die advertensie, getiteld ANC, the conmen, handel oor die gerugte dat die ANC fundamentele wysigings aan die Grondwet wil aanbring sodat die party deur middel van die Nasionale Demokratiese Revolusie ’n “tweede oorgangsfase” in Suid-Afrika kan teweegbring. Die video bevat verskeie uittreksels van onlangse ANC-besprekingsdokumente en moedig Suid-Afrikaners aan om ’n petisie te teken. Die video en petisie is opgestel om die publiek bewus te maak van die inhoud van die ANC se beleidsdokumente.

Intussen het die woordvoerder van die SAUK, Kaizer Kganyago, terug gekap en gesê AfriForum weet nie hoe die SAUK se stelsels werk nie. Hy het ook gesê hulle wil op Nando’s se lawaaiwa klim en die SAUK gebruik om publisiteit vir hul eie kwessies aan te wakker.

Sien die video hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.