ANC vra glo dat Malema permanent geskors word

Die ANC se regsverteenwoordigers het glo tydens Julius Malema en ander jeugliga leiers se verhoor om versagting, gevra dat Malema permanent uit die party geskors word.

Malema en twee ander jeugliga lede het die week redes vir versagting aangevoer nadat die ANC se appèlkomitee vroeër die maand hulle aansoek om hulle skorsings ter syde te stel, van die hand gewys het. Die appèlkomitee het die saak terugverwys na die ANC se Nasionale Dissiplinêre Komitee (NDK) vir ʼn verhoor om versagting. ʼn Woordvoerder van die ANC, Keith Khoza, sê die verhoor om versagting het Donderdagaand omstreeks middernag tot ʼn einde gekom. “Alle argumente is ontvang en ons wag nou op ʼn besluit van die NDK.” Die verhoor het Maandag begin. Terwyl Malema en ander jeugliga leiers redes om versagting aangevoer het, is die ANC geleentheid gegee om te argumenteer in verswaring van vonnis. EWN en die SABC berig dat die ANC gevra het dat Malema permanent uit die party geskors word. Die ANC-jeugliga se president, Ronald Lamola, het egter Donderdag tydens ʼn mediakonferensie gesê Malema sal nie uit sy posisie verwyder word deur enigiemand behalwe die jeugliga self nie. Malema en ander jeugliga leiers is in November verlede jaar skuldig bevind daaraan dat hulle die ANC in oneer gebring het en verdeeldheid in die party saai. Malema is vir vyf jaar geskors. Die NDK sal na verwagting binnekort die uitkoms van die verhoor om versagting bekendmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.