ANCYL distansieer hom van Malema-video

Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC-jeugliga het hom Donderdag gedistansieer van ʼn video van Julius Malema wat sê die regstelsel word deur die wit minderheid beheer.

“Die ANCYL sal regsadvies inwin oor moontlike regsaksie en sal verder sy eie ondersoek loods oor waar die video vandaan kom,” het die adjunk-president van die jeugliga, Ronald Lamola, aan verslaggewers in Johannesburg gesê. Die video is glo verlede week geneem by ʼn geslote sessie tydens die jeugliga se lekgotla. Malema het glo gesê daar is drie wit prokureurs, wat hom irriteer en ondersoek instel na bewerings van korrupsie rakende die toekenning van tenders. “Maar daar is niks wat ek daaraan kan doen nie want die regstelsel word deur wit minderhede beheer,” het Malema glo gesê. Lamola sê Malema het “volle vertroue” in sy regspan. “Niemand het die regspan op hom afgedwing nie en indien daar enige probleme is kon hy maklik weggeloop het.” Malema, die jeugliga se woordvoerder Floyd Shivambu en die sekretaris generaal Sandiso Magaqa het nie die mediakonferensie bygewoon nie aangesien hulle ʼn verhoor vir versagtende omstandighede rakende hulle skorsings bygewoon het. Malema, Lamola, Shivambu, Magqa, die tesourier generaal Pule Mabe en adjunk sekretaris generaal Kenetswe Mosenogi is in November verlede jaar skuldig bevind op aanklagte dat hulle die ANC in oneer gebring het en verdeeldheid in die party saai. Die ANC se appèlkomitee het op 4 Februarie Malema en die ander lede se poging om hulle skuldigbevinding van die hand te wys, geweier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.