‘ANCYL maak witmense die vyand’

AfriForum Jeug sê die ANC-Jeugliga (ANCYL) se aanval op Russel Loubser, voormalige hoof van die Johannesburgse Effektebeurs, dui daarop dat hulle ʼn ‘rasse-oorlog’ aanhits.

Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, het ʼn beroep gedoen op die ANC-leierskap om in te tree indien hulle enigsins waarde heg aan politieke stabiliteit in Suid-Afrika. “Die ANCYL verdedig hulle eie ekstremisme deur witmense die vyand te maak, terwyl armoede die vyand moet wees. Die ANCYL is konstant besig met onberekende argumente oor die ekonomie, terwyl haat, rassisme en intimidasie die enigste metode is wat die ANCYL kan gebruik. Die optrede en uitlatings van die ANCYL bewys aan die wêreld dat die ANC reeds só geradikaliseer is dat wedersydse respek heeltemal ontbreek.”

Die ANCYL het gister in ʼn verklaring gesê Loubser is ʼn “oningeligte en roekelose luidspreker vir die belange van die wit monopolie-kapitaal”. Volgens die ANCYL sal “geen regdenkende mense met ʼn IK wat bietjie hoër is as kamertemperatuur (waarvan hy die ANCYL beskuldig) sy uitlatings met ʼn antwoord regverdig nie. Hy praat oor goed waarvan hy niks weet nie en dit gaan die verstand te bowe dat die ANC-Jeugliga in 2012 gevra word om rekenskap te gee vir sy sienings deur voorheen en huidig bevoordeelde seuns van wit voorreg.”

Loubser het Woensdagaand tydens ʼn lesing by die Universiteit van die Witwatersrand gesê Julius Malema en die ANCYL is rassisties en gulsig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.