ANCYL: ‘Malema-mediaberigte is vals’

Die ANC-jeugliga sê mediaberigte wat beweer dat sy leier, Julius Malema, moontlik in hegtenis geneem kan word op aanklagte wat verband hou met sy finansiële sake, is vals.

ʼn Woordvoerder van die jeugliga, Floyd Shivambu, sê sekere media probeer die aandag aflei deur leuens en gerugte te versprei oor die leierskap van die jeugliga. Hy het die media daarvan beskuldig dat hulle die aandag probeer aftrek van die jeugliga se “baie suksesvolle” 24ste nasionale kongres. Shivambu sê daar was nog geen vorm van kontak tussen Malema en die Valke, wat hom glo ondersoek, nie. “Indien daar enige ondersoek deur die Valke gedoen word, sal die leierskap van die jeugliga sy volle ondersteuning gee aangesien die leierskap niks verkeerds gedoen het nie,” sê Shivambu. Die Times het Maandag berig dat ʼn gesamentlike ondersoek deur die Valke en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens na Malema se finansiële sake amper afgehandel is. Die Sunday Independent het berig dat die ondersoek prima facie bewyse gevind het dat Malema verkeerd opgetree het. Die Valke wou nie Maandag kommentaar lewer nie. Die Daily Sun berig Malema het die Valke uitgedaag om aanklagte teen hom aanhangig te maak. “Bring dit. Ek is moeg daarvoor om gedreig te word. Ek het nog nooit iets verkeerds gedoen nie en miskien sal dit beter wees as die Valke my aankla sodat ek die aantyging voor ʼn landdros kan verduidelik,” het Malema glo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.