ANCYL-ondersteuners kom in Johannesburg bymekaar vir optog

Die foto is deur die Twitter-gebruiker @phillipdewet opgelaai

Ondersteuners van die ANC-jeugliga het Donderdagoggend te midde van reënweer by Beyers Naude-plein in die Johannesburgse middestad begin bymekaarkom vir die jeugliga se optog vir ‘ekonomiese vryheid’.

Die eerste optog is na die kantore van die Kamer van Mynwese waar ʼn memorandum na verwagting Donderdagmiddag oorhandig sal word. Die groep ondersteuners is in ʼn vrolike bui en dreunsing vryheidsliedere waaronder die omstrede Dubul’ibhunu (skiet die boer). Daar heers ʼn streng polisie en metropolisie teenwoordigheid in die gebied. Die Stad Johannesburg het ook ʼn private veiligheidsmaatskappy gehuur om seker te maak wet en orde word gehandhaaf. Die jeugliga sal na verwagting van die Kamer van Mynwese na die Johannesburgse aandelebeurs ʼn optog hou. Die optog sal dan na Pretoria beweeg waar ʼn nagwaak by die Caledonian-stadion in Arcadia gehou word. Die jeugliga sal Vrydagoggend ʼn optog na die Uniegebou hou waar hulle ʼn memorandum aan die presidensie sal oorhandig. Motoriste in Johannesburg is aangeraai om strate in die omgewing van die Kamer van Mynwese te vermy. Paaie sal ook gesluit in Rosebank en Sandton. Die ANC-Jeugliga eis onder meer die nasionalisering van myne, die onteiening van grond sonder vergoeding en werksgeleenthede vir die jeug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.