ANCYL-woordvoerder in hof na hy joernalis glo ‘dronkaard’ noem

Die ANC-jeugliga se woordvoerder, Floyd Shivambu, het Dinsdag in die Johannesburg hooggeregshof verskyn nadat hy glo ʼn verslaggewer ʼn ‘dronkaard’ genoem het.

Die Sowetan berig dat Shivambu van naamskending aangekla word. Die redakteur van die Saturday Star, Kashiefa Ajam, het ʼn lastereis van R350 000 teen Shivambu ingestel terwyl haar werkgewer, Independent Newspapers, ʼn eis van R300 000 ingestel het vir skade aan sy reputasie. Die Saturday Star het in Januarie verlede jaar ʼn voorblad-storie gedra het waarin daar berig is dat die Whiskey-verskaffer, Chivas Regal, die ANC-jeugliga genader het om hulle verskaffer van keuse te wees. Shivambu het hierop reageer deur glo te sê: “Die siek en deurmekaar Saturday Star joernalis wat die storie geskryf het, het nie eers deur die jeugliga genader om die bewerings te bevestig nie. As daar enigiemand is wat ʼn vennootskap het met Chivas Regal, is dit die dronkaard joernalis, Kashiefa Ajam, en die redaksie van die Saturday Star, wat baie alkohol inneem en vergeet om die jeugliga te kontak wanneer hulle leuens oor die organisasie versprei”. Shivambu se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, het Dinsdag in die hof aangevoer dat Shivambu nie geweet het Ajam is ʼn Moslem en dat sy nie drink nie. Uitspraak in die saak is voorbehou. Shivambu word ook voor die gelykheidshof gedaag nadat hy glo ʼn joernalis van die Independent Newspapers, Carien du Plessis, in ʼn sms “dom” en ʼn “wit teef” genoem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.