André Jordaan se vermeende moordenaars in die hof

André Jordaan en sy seuns Shaun (links) en Kevin (regs). Foto: Beeld

Die twee mans, wat daarvan verdink word dat hulle André Jordaan van Muldersdrift vermoor het, het Maandag in die landdroshof in Krugersdorp verskyn.

Lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, sê die mans sal weer op 1 Oktober in die hof verskyn. Hulle sal tot hul volgende hofverskyning in aanhouding bly. Volgens Mogale is ‘n derde verdagte nog in die hospitaal en hy sal, sodra hy ontslaan word, in die hof verskyn.

Die mans is Vrydag in hegtenis geneem.

Die mans het glo die 50-jarige Jordaan Donderdagaand aangeval. Jordaan was saam met ander mense buite sy huis toe ‘n blaffende hond sy aandag op die gewapende groep mans gerig het. Die rowers het die huis betree en hom sewe keer geskiet. Hy het Saterdagaand aan sy beserings beswyk.

Terwyl die polisie dié rooftog ondersoek het, is hulle Vrydag in die vroeë oggendure in kennis gestel van ‘n tweede aanval waartydens ‘n televisiestel gesteel is. Die polisie het ‘n groep mans na ‘n veldjie naby die N14-Swartkop-afrit gevolg waar ‘n skietgeveg uitgebreek het. Een van die mans is gewond, ‘n ander het weggehardloop en twee ander is in hegtenis geneem.

Mogale sê die mans staar klagtes van gewapende roof en moord in die gesit. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die mans deel is van ‘n groep wat, tydens ‘n rooftog in dieselfde gebied twee weke gelede, Alyssa Botha (13) vermoor en haar 17-jarige sussie en pa gewond het. Die polisie het vyf mans vir dié rooftog in hegtenis geneem, maar hulle is almal vrygelaat, aangesien daar nie genoeg bewyse teen hulle was nie. Een van die mans het ‘n geheuekaart, wat aan een van die meisies behoort het, in sy besit gehad.

Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.