Angs tref plaasaanvalslagoffer nou

Johan Stiglingh. Foto: Twitter

Die angs wat ʼn vrou van Ventersdorp ervaar het nadat haar man vermoor en sy aangeval en verkrag is tydens ʼn plaasaanval het haar op die rand van ʼn hartaanval gebring, het Beeld Saterdag berig.

Corra en Johan Stiglingh is Sondag op hul plaas buite Ventersdorp aangeval. Johan (67) is buite die huis deur twee mans gekonfronteer waarna hulle hom oor die kop geslaan en die huis ingetrek het. Corra (64) is aangerand en verkrag. Sy is vasgemaak waarna die mans gevlug het. Johan is op die toneel dood. Heleen Vosloo, die egpaar se dogter, sê haar ma, wat tans by familie in Klerksdorp bly, het Donderdagmiddag van ʼn pyn in haar bors en arm begin gekla. Corra was ook kort van asem en het heeldag opgegooi. “Die ambulans het haar kom haal en teruggeneem na die Wilmed-hospitaal,” het Vosloo aan die koerant gesê. “Sy is nou in die hoësorgeenheid en sal na verwagting die naweek daar bly.” Vosloo sê haar ma was Vrydag kalm maar baie depressief. Die angs begin nou intree en haar gemoed wissel. “Dit is hoekom sy so siek is,” het Vosloo gesê. Twee mans is in hegtenis geneem in verband met die voorval en het Vrydag in die Ventersdorp-landdroshof verskyn. Hulle borgaansoek is tot volgende week uitgestel.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.