Antarktika: Die koudste reis nog

Ranuph Fiennes

Ranulph Fiennes (68), ‘n Britse ontdekkingsreisiger, en vyf spanlede het Kaapstad Maandag verlaat om regoor Antarktika tydens dié streek se winterseisoen te reis.

Die span het Kaapstad op die vaartuig, SA Agulhas, verlaat om “Die koudste reis” te voltooi. Die ekspidisie sal op 21 Maart in die Suid-pool begin vanwaar hulle sowat 4 000 km gaan aflê. Die reis sal hoofsaaklik in die donker plaasvind met temperature so laag as -90 grade Celsius.

Die reis is veral gevaarlik, aangesien geen vliegtuig in die winter weens die donkerte na die binneland kan vlieg nie. Die moontlikheid bestaan ook dat die vliegtuig se brandstof kan vries. Daar is dus geen moontlikheid vir ‘n soek- en reddingspoging indien enigiets skeef loop nie. “Ek sien gewoonlik uit na ekspedisies, maar daar is met die een só groot onsekerheid dat dit seker nou nie die regte woorde is om te gebruik nie,” het Fiennes gesê, berig SABC. “Sommige mense sal sê dit is onverantwoordelik om te gaan tensy jy alles weet, maar in daardie geval sou die Amerikaners nooit maan toe gegaan het nie. Indien die mens iets nuut gaan aanpak, dan sal daar gewoonlik grys areas wees.”

Volgens Fiennes se webwerf wou die Britse owerheid vroeër nie permitte toeken vir winterekspedisies in Antarktika nie, omdat dit as te gevaarlik beskou is.

Die span sal hoëtegnologie-toerusting gebruik, insluitend batteryaangedrewe-verhittingsmeganismes in hul klere en spesiale asemhalingstoerusting. Hulle sal 20 ton trekkers gebruik om sleë te trek waarop hul verblyfkwartiere vasgemaak is, met brandstof wat ontwerp is om nie in dié uiterste toestande te vries nie. Die voertuie het ook radars wat skeure kan optel.

Anton Bowring, medeleier van die ekspedisie, het gesê die klere en toerusting stel hul reis gelyk aan voorbereidings vir ‘n ruimtevaart. “Sielkundig is die toestande dieselfde,” het Bowring aan Sunday Times gesê. “Sodra hulle wegspring en die winter begin, is hulle op hul eie. Jy kan nie ‘n ontruiming doen indien iemand blindedermontsteking of vriesbrand opdoen nie. Daar is niks wat mens daaraan kan doen nie.”

Ekspedisie-organiseerders beplan om sowat $10 miljoen vir ‘n liefdadigheidsorganisasie, wat poog om blindheid te voorkom, in te samel. Spanlede sal ook navorsing doen om die impak van klimaatsverandering op die pole te verstaan.

Fiennes het ‘n lang lys prestasies oor ‘n paar dekades ingeoes, talle daarvan in die Antarktiese en Arktiese streke. Hy het in 2009 die oudste Brit geword om Mount Everest uit te klim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.