APK-dominee , vrou weer in hof oor seksklagte

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

Die aangenome seun van ʼn dominee van Noordwes het Maandag sy getuienis in die hooggeregshof in Pretoria hervat waar die dominee tereg staan op verskeie aanklagte van seksuele misdrywe.

Die staat voer aan die 48-jarige predikant, verbonde aan die Afrikaanse Protestantse Kerk, het sowat sewe jaar gelede sy aangenome seun seksueel aangerand en verkrag. Die seun was minderjarig tydens die beweerde misdrywe.

Die seun, nou 23, het glo besluit om na vore te kom uit besorgdheid oor moontlike nuwe slagoffers.

Hy getuig agter geslote deure.

Die beskuldigde staan tereg op nege aanklagte wat verband hou met die seksuele aanranding, teistering en voorbereiding van minderjariges asook die vervaardiging van kinderpornografie.

Die beskuldigde se vrou, wat by ʼn skool in die omgewing werk, word ook aangekla en daarvan beskuldig dat sy geweet het van die beweerde misdade, maar sy versuim het om dit aan te meld.

Albei het reeds by ʼn vorige hofverskyning skuld ontken. Hul name word weerhou om die identiteit van die vermeende slagoffers te beskerm.

Die dominee is in Januarie 2021 in hegtenis geneem ná bewerings deur die seun, asook dié van nog ʼn jong man wat soms by die egpaar gekuier het. Die klaers was destyds albei 14 jaar oud.

Die beskuldigde is later op R2 000 borgtog vrygelaat. Sy vrou is meer as ʼn jaar later, in September verlede jaar, bygevoeg as die tweede beskuldigde in die saak.

Luidens die akte van beskuldiging het die dominee na bewering tussen Januarie 2014 en 31 Desember 2017 sy aangenome seun betas, hom versoek om hom te betas en ook die seun probeer verkrag.

Verder het die dominee ook glo sy aangenome seun afgeloer terwyl hy bad en hom gebruik in die vervaardiging van kinderpornografie.

Sy vrou, wat glo verskeie kere ingelig is van haar man se beweerde seksuele dade met hul aangenome seun en die ander jong man, het glo geswyg.

Volgens die klagstaat is daar glo ook kinderpornografie van die tweede seun vervaardig. Hy is ook na bewering onsedelik betas en moes ook die dominee betas.

Die dominee en sy vrou mag kragtens wetgewing nie geïdentifiseer word nie om die twee klaers te beskerm. Omdat die twee in camera getuig, mag die media of publiek ook nie in die hofsaal teenwoordig wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Casper ·

As ‘n leek betreffende die strafreg wil ek net weet.Hoekom getuig hulle in camera hulle is mos nie minderjarig nie.

Hendrik ·

Dit is geensins vreemd dat die almagtige God ons selfs leer bid ” Laat nie toe dat ons in die veroeking kom” nie, “verlos ons van die bose” nie. Die mag van satan oorskrei die vermoe van die nietige mens.

Nettie ·

Julle is brawe jong mans. Mag geregtigheid geskied en mag julle genees van die trauma waardeur julle is.

Nicholaas ·

Ons geveg is nie teen vlees en bloed maar teen die bose magte wat heers oor die wereld, die duiwel doen hom selfs voor as die engel van die lig en kry so n houvas op ons lewens, ons wapens vir die geestelike oorlog is n persoonlike verhouding met God en leef volgens sy woord en gebed.

Ben ·

Ek wil nou nie so of so sê nie.
Maar my ouma het altyd gesê.
“Moet nie alles glo wat jy sien of hoor nie”

Mieke ·

Casper, ek sou ook graag in camera getuig: laat die mense hul identiteit geheim hou, dis siek , en as slagoffer sou ek ook liewers naamloos wil wees.

Koen ·

Kyk nou hoe word verskonings gemaak vir die siek dominee. Hy is mos heilig en sal mos niks verkeerd doen nie. Julle wat so dink is net so siek soos die gemors.

Bolandse Nooi ·

@Casper die twee getuies lewer “in camera” getuienis om hulself te beskerm. Hulle was minderjarig tydens die voorvalle van misbruik. Daarom mag die dominee en sy vrou ook nie genoem word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.