Appèl oor rugbyspeler se dood misluk

Riaan Loots

Ben Zimri, voorheen ’n speler vir die Delicious-rugbyklub, kon nie daarin slaag om die Wes-Kaapse hooggeregshof te oorreed om sy skuldigbevinding en vonnis vir die dood van ʼn ander rugbyspeler ter syde te stel nie.

Zimri is in 2009 deur die Worcester-streekhof skuldig bevind aan strafbare manslag en tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir die dood van Riaan Loots (25), wat vir die Rawsonville-rugbyklub gespeel het. Zimri het Loots in Junie 2006 gedurende ʼn klubrugbywedstryd op die keel geslaan en teen sy kop geskop. Loots is later in die hospitaal oorlede nadat hy breindood verklaar is. Zimri het egter appèl aangeteken teen die Worcester-streekhof se beslissing. Regters Rosheni Allie, Willem Lou en Ashley Binns-Ward van die Wes-Kaapse hooggeregshof het egter Vrydag beslis dat die Worcester-streekhof die regte beslissing gemaak het. “Die oorledene was ʼn jong man in die fleur van sy lewe wat wreed neergevel is in die hitte van ʼn rugbywedstryd. Terwyl rugby beskryf kan word as ‘n robuuste spel, is dit bedoel om vertroue en ‘n spangees te bou, nie vyandigheid en aggressie nie,” het die regters in hul uitspraak gesê. Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het die uitspraak verwelkom. “Ons hoop dat Zimri so gou as moontlik sy vonnis sal begin uitdien.” Die Burger berig intussen dat Zimri beplan om ook teen dié uitspraak te appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hannelie Horn ·

Uiteindelik na byna 7 jaar!! Maar dit gaan nog steeds nie vir Riaan terugbring nie. Ons sal nogsteeds nie vergeet wat daardie dag gebeur het nie. Rugby teen Delicious was nog nooit rugby nie. Ek sal nooit vergeet die dag op Ceres toe Rawsonville se spelers my en my skoonsus moes beskerm en ons onderdeur ‘n draad moes klim, omdat Delicious toeskouers ons gevloek het. Dis of die vrouens mekaar aangehits het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.