Appèlhof: DA mag Zuma-dokumente sien

Die hoogste hof van appèl het die DA se versoek om toegang te kry tot die rekords waarop die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sy besluit gegrond het om aanklagte van onder meer korrupsie en bedrog teen president Jacob Zuma te laat vaar, toegestaan.

Die DA wil hê die destydse waarnemende direkteur van openbare vervolging, Mokotedi Mpshe, se besluit om die aanklagtes teen Zuma te laat vaar, moet hersien word. Die DA het dus vir die NVG gevra om die rekords, waarop die besluit gegrond is, aan hulle te oorhandig. Die appélhof het gelas dat Mpshe die rekords binne 14 dae aan die registrateur van die hoogste hof van appèl moet oorhandig. Die hof het egter gelas dat die rekords nie skriftelike vertoë wat namens Zuma gemaak is, moet insluit nie. Die rekords moet wel dokumente en ander relevante materiaal bevat wat Mpshe tot sy besluit gelei het. Die hof het beslis dat Mpshe se besluit, op 6 April 2009, om Zuma nie te vervolg op aanklagte van korrupsie nie, onderhewig sal wees aan hersiening. NVG woordvoerder, Mthunzi Mhaga, sê hulle sal die uitspraak bestudeer om die volgende stappe te bepaal.

ʼn Hooggeregshof het vroeër gelas dat die DA nie getoon het dat die NVG se besluit om nie vir Zuma te vervolg , wesenlik of nadelig sy regte, dié van sy lede of dié van die breër publiek geraak het nie. Die NVG het kort voor die algemene verkiesing in 2009 aanklagte teen Zuma laat vaar. Die NVG weier om sy rekords aan die DA te verskaf. Die DA het verlof tot appèl gekry wat aangehoor is deur ʼn volbank van vyf regters van die hoogste hof van appèl. Zuma se regspan het tydens die appèl aangevoer dat die NVG se rekords “uiters omstrede” inligting bevat wat nie sommer net bekendgemaak kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.