Apple ondersoek iPhone-sterfte

Apple het Maandag gesê hy sal bewerings ondersoek nadat ʼn vrou in China, wat op haar iPhone gepraat het terwyl sy die foon gelaai het, glo doodgeskok het.

ʼn Vrou van Xinjiang het op China se mikroblogdiens, Sina Weibo, vertel van haar 23-jarige suster, Ma Ailun, se afsterwe.

“Ons sal die saak ten volle ondersoek en met die owerhede saamwerk,” het Carolyn Wu, woordvoerder vir Apple in Beijing, gesê. Die maatskappy het sy medelye met die familie betoon.

Die openbare uitsaaier Xinhua het Sondag gesê plaaslike polisiebeamptes het bevestig dat Ma doodgeskok is, maar “moet nog bevestig of haar selfoon by die voorval betrokke was”. Ma se suster het ander gewaarsku om nie op ʼn iPhone te praat terwyl hy gelaai word nie. “Wat ʼn jammerte om só dood te gaan!” het sy gesê.

Weibo-gebruikers het hul kommer uitgespreek oor die moontlike gevaar, maar bevraagteken of dit werklik gebeur het.

China is Apple se tweede grootste mark en iPhones en ander Apple-produkte, waarvan talle in dié land aanmekaar gesit word, is baie gewild.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.