Arbeidsgeskil nie enigste oorsaak van Lonmin-geweld, sê Solidariteit

Foto: Taurai Maduna/EWN

Die vakbond Solidariteit het Maandag gesê die gewelddadige betogings by Lonmin se Marikana-myn nie net die gevolg van ʼn loongeskil tussen rotsbooroperateurs en die werkgewer was nie.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, is ʼn groot aantal van die nagenoeg 3 000 betogers afgedankte werknemers van Lonmin en Impala Platinum (Implats), kollegas van die rotsbooroperateurs in ander werkskategorieë en werklose gemeenskapslede. “Dit is duidelik dat baie van die protesterende werkers nie gegriefde rotsbooroperateurs was nie, maar dat opportuniste die staking uitgebuit het wat misdade tot gevolg gehad het. Daar bestaan ʼn wanpersepsie dat die dispuut hoofsaaklik handel oor onderbetaalde rotsbooroperateurs wat volgens berigte R4 000 per maand verdien. Die aangepaste totale kostepakket van ʼn Lonmin-rotsbooroperateur is egter nagenoeg R10 500 per maand, wat bonusse uitsluit. Daarbenewens het die rotsbooroperateurs en hulle verteenwoordigende vakbond, Amcu, geen skriftelike eis ingedien of ʼn loongeskil verklaar nie, wat die norm is in ʼn proses van kollektiewe bedinging. Die betogers se gewelddadige optrede, die brutale moorde op onskuldige mense en die gebruik van toordokters en tradisionele moordwapens dui eerder op ʼn politieke motivering en ʼn opportunistiese posisionering eerder as om die oplossing by die onderhandelingstafel te probeer soek,” het Du Plessis gesê.

Solidariteit het intussen ook die volgende voorstelle gemaak aan die kommissie van ondersoek wat deur president Jacob Zuma aangestel is om te bepaal wat tot die Lonmin-tragedie gelei het:

  • Die kommissie moet bepaal watter instansies of individue vir die opsweping van die werknemers verantwoordelik was en wapens aan hulle verskaf het.
  • Die vakbond Amcu se patroon van geweld moet ook deur die kommissie ondersoek word. Amcu was die afgelope jaar by verskeie stakings betrokke wat in geweld uitgeloop het by onder meer Lonmin, Implats, Aquarius se Kwezi-skag by Kroondal en sy Everest-myn naby Lydenburg.
  • Volgens Solidariteit moet die kommissie die moorde  wat voor Donderdag se tragedie gepleeg is, ondersoek.

Solidariteit het weens die plofbare situasie gevra dat Lonmin eerder as om die werknemers te ontslaan, individuele sake met die polisie hanteer aangesien baie van die werkers geïntimideer is. “Lonmin moet ondersteun word ten einde te voorkom dat die anargie wat die afgelope ruk by Lonmin geheers het oorspoel na ander myne,” het Du Plessis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.