Arbeidsmarkindeks, eerste van sy soort, word bekendgestel

Piet le Roux

Piet le Roux

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag sy eerste kwartaallikse Arbeidsmarkrapport vir 2014 bekendgemaak, insluitende die eerste uitgawe van die nuwe Solidariteit-ETM Arbeidsmarkindeks (AMI). Die indeks, ʼn kwartaallikse maatstaf van werk- en loonsekerheid in Suid-Afrika, is die eerste van sy soort en die produk van samewerking tussen die vakbond Solidariteit en die markstrateë ETM Analytics.

Buiten in een kwartaal sedert K2 van 2011 het die indeks deurgaans onder die vlak van 50,0 gebly, wat op ʼn besonder lang tydperk van werk- en loon-onsekerheid, stagnante lone of trae loonverhogings en afdankings in sommige sektore dui. Sedert K1 in 2009, die middel van die wêreldwye finansiële krisis en die begin van Suid-Afrika se 2009-resessie, was die indeks gemiddeld 44,4.

Volgens Piet le Roux, senior navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut, word die AMI as deel van Solidariteit se kwartaallikse Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkrapport gepubliseer. “Dit is vir Solidariteit aangenaam om, in samewerking met ETM Analytics, die AMI as nuwe bron van inligting oor verwikkelinge in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark bekend te stel. Ons is opgewonde oor die lig wat dit werp op op- en afswaaie in die arbeidsmark, die mate van werksekerheid en die bedingingsruimte vir loononderhandelinge in Suid-Afrika,” het hy gesê.

Le Roux sê dat die AMI saamgestel is uit kwartaallikse opnames onder Solidariteit-lede, maatstawwe vir die bekostigbaarheid van arbeid en ETM se sakesiklusindeks.

Ander onderwerpe wat in hierdie uitgawe van die Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkrapport bespreek word, sluit in:

  • Die implikasies wat die prominente Renate Barnard-saak oor regstellende aksie en die onlangse appèlhofuitspraak daaroor op die arbeidsmark het;
  • Waarom pres. Zuma se teiken van ses miljoen werkgeleenthede taamlik realisties is, selfs sonder dat dit deur die Indiensnemingsbelasting-aansporingswet aangehelp word.

Klik hier om die volle Arbeidsmarkindeks te sien.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.