Arend-video net ‘n foefie

‘n Video op YouTube wat wys hoe ‘n reuse-arend ‘n kleuter optel en ná ‘n paar meter weer laat val, is ‘n foefie.

Normand Archambault, Loïc Mireault en Félix Marquis-Poulin, 3D-animasiestudente by die Centre NAD, het bekendgemaak dat hulle verantwoordelik is vir dié oornag internetsensasie. Die video wys hoe ‘n reuse-arend neerdaal en ‘n kleuter in die Mont Royal-park opraap voordat hy die kleuter ná ‘n paar meter weer laat los. Klik hier om die video te sien.
Die video is binne 48 uur meer as 18 miljoen keer afgelaai en gekyk.

Archambault sê sy span het met die perfekte som vorendag gekom om seker te maak dat mense oor hulle werk sou praat. “Ons het koppe bymekaar gesit. Enigiets wat met diere of babas te doen het, is super gewild en ons het ‘n plan beraam om dié twee dinge bymekaar uit te bring,” het Archambault gesê.

Die studente het sowat 400 uur spandeer om die video te maak. Studente ontvang punte vir die hoeveelheid keer wat ‘n video gekyk word. Video’s wat meer as 100 000 keer gekyk word, ontvang volpunte.

Centre NAD se produksiesimulasie-werkswinkel was vroeër ook in die nuus toe hulle ‘n video gemaak het van ‘n pikkewyn wat uit die Montreal-dieretuin ontsnap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.