Arende wen riller in Potch

Die SWD Arende het Vrydagaand die tweede plek in die Curriebeker se Eersteliga ingeneem met ’n naelskraapse oorwinning van 50-47 oor die Luiperds in Potchefstroom.

Die wedstryd is teen ’n intense tempo gespeel en beide spanne se swak dissipline het hulle in die steek gelaat. Die skoppers, Adriaan Engelbrecht vir die Luiperds en Justin van Staden van die Arende, het ’n hoë sukseskoers met hul talle skoppogings pale toe gehandhaaf. Daar is altesame elf drieë in die wedstryd gedruk en ironies genoeg het die Luiperds ses daarvan aangeteken in weerwil van hul nederlaag. Daar is agt drieë in die tweede helfte gedruk.

Die Luiperds se agtsteman, Morné Hanekom, het vroeg reeds agter die doellyn gaan kuier nadat die Luiperds die bal wyd gespeel het. Die ander twee drieë van die eerste helfte is deur die Arende gedruk. Shaun Raubenheimer het oorgebeur in die hoekie ná ’n periode van intense druk en Dumisane Meslane het die Luiperds-verdedigers ontwyk nadat hy ’n los bal opgetel en rieme neergelê het doellyn toe. Die halftydtelling was 20-16 in die guns van die Arende met Van Staden wat geen skoppe gemis het nie.

Die tweede helfte was soms ’n harwar maar beide spanne het die krane oopgedraai en die momentum-pendulum het telkens heen en weer geswaai. Die Luiperds het hul kanse gebruik toe die Arende-slot Schalk Oelofse met ’n geelkaart afgestuur is en Edgar Marutlulle, Hanekom en Johann Laker het gedruk. Engelbrecht het een doelskop verbrou, maar twee strafdoele oorgeklits en die Luiperds was duidelik in beheer.

Die Arende het egter groot veggees getoon en hulself stelselmatig begin terugspeel in die wedstryd. Martin du Toit, Gerrit Smith en Alshaun Bock het elkeen agter die pale gaan kuier in die laaste kwartier van die wedstryd.

Die Luiperds se Jarryd Buys en BG Buys het elkeen daarna ’n drie gaan druk, maar helaas was dit nie genoeg nie en die manne van die Suid-Kaap het ’n belangrike wegwedstryd gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.