In die hawe van Dordrecht lê ‘n houtboot van 135 meter lank, 30 meter breed en 23 meter hoog – ‘n replika van Noag se ark.
Die man wat die ark gebou het, is die Nederlander Jan Huibers. Trouens, dit is die tweede ark wat hy aanmekaar geslaan het, maar die vorige was ‘n skaalmodel van 70 meter lank. Die boot kan 3 000 mense inneem, maar die owerhede van Dordrecht, sê Huibers, het nie veel ervaring van arke nie, en daarom mag hy nou net 500 mense op ‘n slag aan boord neem.
Hy hoop om jaarliks 300 000 besoekers per jaar aan boord te neem om dan tussen regte en plastiese diere rond te stap om ‘n idee te kry hoe Noag en sy mede-vaarders dit moes beleef het. Huibers vertel die banke was heel bereid om te help met die finansiering, maar sy vrou was minder gelukkig en het die bouery uit sy kop probeer praat.
Altesaam 12 000 bome se hout is gebruik. Hoewel die buitekant baie eg lyk, is die binnekant met staalrame versterk, en is verskeie vertrekke met tegnologie van die 21ste eeu uitgerus, onder andere die restaurant, ‘n ouditorium en twee amfiteaters vir opvoerings. Die plan is dat die ark twee jaar in Dordrecht sal vertoef, en daarna by ander hawens sal aandoen.
Ek wonder hoe Jan Huibers die bakteriee voorstel wat ook op die Ark moes wees.