Armstrong skik in bedrogsaak

Lance Armstrong

Lance Armstrong

Die voormalige fietsrykampioen Lance Armstrong het Woensdag ʼn skikkingsooreenkoms bereik in een van die bedrogsake wat gevolg het nadat hy erken het dat hy verbode stimulante tydens sy Tour de France-oorwinnings gebruik het.

Mark Kincaid, prokureur vir Acceptance Insurance in Nebraska, het bevestig dat die maatskappy ʼn skikkingsooreenkoms met Armstrong bereik het, maar wou nie verdere besonderhede verskaf nie.

Die maatskappy het Armstrong en die Tailwind Sports Corporation in Maart gedagvaar en aangevoer dat die fietsryer bedrog gepleeg het deur sy gebruik van prestasieverbeteringsmiddels tydens die Tour de France in 1999, 2000 en 2001.

In die hofsaak het die maatskappy terugbetaling van $3 miljoen geëis. Armstrong het glo ʼn bonus van $3 miljoen ontvang vir sy eerste drie Tour-oorwinnings.

USA Today berig die ooreenkoms gun Armstrong die geleentheid om ʼn geskeduleerde getuienis vry te spring waar hy onder eed oor sy stimulantgebruike sou moes praat. Sedert Armstrong die bekentenis aan Oprah Winfrey, bekende TV-persoonlikheid, gemaak het, het hy nog geen getuienis onder eed afgelê nie.

Al sewe Tour de France-oorwinnings is teruggetrek en hy is lewenslank uit die sport verban.

Armstrong is ook in ander regsgedinge gewikkel. Hy het ʼn federale regter Maandag versoek om die Amerikaanse regering se bedrogsaak teen hom terug te trek. Hy voer aan die staatsaanklaers het die sperdatum van die statute van beperking gemis.

SCA Promotions, ʼn versekeringsmaatskappy in Texas, het Armstrong ook gedagvaar oor bonusbetalings. Dié saak is aan arbitrasie oorhandig.

Armstrong het in ʼn hofsaak in 2005 onder eed getuig nadat SCA ʼn bonusbetaling oor dwelmgebruik weerhou het. Die gebruik van verbode stimulante was in daardie stadium nog net spekulasie. Die maatskappy moes Armstrong ʼn bedrag van $7 miljoen betaal en hulle eis dit nou terug.

Armstrong het in Augustus ʼn skikkingsooreenkoms met die Sunday Times in Engeland bereik oor skadevergoeding wat die koerant moes betaal ná ʼn berig oor sy gebruik van verbode stimulante.

ʼn Hofsaak deur ontstoke lesers van sy outobiografieë is egter van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.