Die sanger Arno Carstens het Dinsdag in die Kaapstadse landdroshof verskyn nadat hy vroeër vir dronkbestuur in hegtenis geneem is.
Die Cape Argus berig die hof het gister aangehoor dat Carstens na alkohol geruik en gestruikel het toe hy omstreeks 23:00 op 19 Desember 2010 in Kaapstad in hegtenis geneem is.
Konst. Lionel Galant het getuig hy het Carstens se swart Mercedes Benz agtervolg en van die pad afgetrek nadat Carstens hom glo wou afskud deur in systraatjies in te draai.
“Ek het hom gevra om uit die voertuig te klim. Hy was nie stewig op sy voete nie en het na alkohol geruik,” het die polisiebeampte getuig. “Ek het hom gevra of hy enigiets gedrink het. Hy het gesê hy kom van ʼn partytjie af en het ʼn paar biere gehad.”
Carstens het die aanklag ontken. Die saak duur Woensdag voort. Carstens gaan aanvoer dat daar met bewysstukke gepeuter is na die voorval, dat ʼn mens vir verskeie redes kan struikel en dat alkohol nie na iets ruik nie.